Die Burger berig dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, haar kantoor opdrag gegee het om dadelik met die regsproses te begin om 'n beleidsvoorstel wat matriek volgens kenners "verdom", terug te trek.
Die voorstelle om die nasionale seniorsertifikaat se slaagvereistes makliker te maak, is op 26 Augustus in die Staatskoerant afgekondig sonder dat die minsiter daarvan geweet het.
’n Kennisgewing om die afkondiging terug te trek, sal binne twee weke in die Staatskoerant gepubliseer word.
'n Woordvoerder het gesê die minister het nie van die voorstel geweet nie en sy was onder die indruk dit nog deel van ’n interne proses was.
Hy het gesê dis ’n reusagtige misverstand en skole en beamptes bel onophoudelik want almal is verward en histeries.
'n Berig op die Sunday Times se voorblad dié naweek oor die voorgestelde wysigings het die kwessie op die spits gedryf.
Daar is reeds vrae oor die huidige standaard van die nasionale seniorsertifikaat-eksamen.
Die National Benchmark Tests het onlangs getoon dat die standaard van die twee wiskundevraestelle wat matrieks tydens verlede jaar afgelê het, reeds onder verdenking is.
