De Klerk was gister in Umkomaas die spreker by die amptelike opening van Sappi Saiccor se nuwe aanleg ter waarde van R3.4 miljard. Volgens hom onderskat te veel Suid-Afrikaners die magte “wat ons saambind” en spandeer hulle te veel tyd en energie aan die faktore wat hulle verdeel.
“Daar is geen twyfel dat ons deur ‘n periode van onsekerheid gaan nie ná die ANC se Pietersburg-konferensie en die onlangse bedanking van president Thabo Mbeki,” het De Klerk voorts gesê. Hierdie negatiewe situasie bevat egter ook positiewe elemente, aangesien die hele proses binne die raamwerk van die grondwet plaasgevind het. Daar is min lande in die wêreld waar ‘n leierskapsverandering met soveel orde en waardigheid sou plaasvind, aldus die voormalige staatspresident.
“Ek glo dat die proses, so kontroversieel as wat dit sekerlik was, ‘n weerspieëling is van die groeiende volwassenheid van ons jong demokrasie.” De Klerk het verder verwys na die probleme rondom die beskuldigings teenoor Jacob Zuma, persvryheid, die onafhanklikheid van die regbank en die ontbinding van die Skerpioene, wat mens nie mag ignoreer nie. Dan is daar ook vigs, armoede, werkloosheid, misdaad, die gebrek aan vaardighede en die noodsaak vir ‘n gebalanseerde transformasieproses. Hy bly egter hoopvol. “Ons Suid-Afrikaners ken die resep vir sukses: ons weet hoe om die magte wat ons saambind te versterk; ons beskik oor die vermoë om die eerste Afrikaland te word wat by die geledere van Eerste Wêreldlande aansluit,” het De Klerk gesê.
