Gewoonlik word aanvaar dat Amerika vernoem is na die Italiaanse kartograaf en ontdekkersreisiger, Amerigo Vespucci.
Tog is dit nie so vanselfsprekend nie, argumenteer Dick Wicken. Wicken voer aan dat die naam dalk na die Noormanne teruggevoer kan word, wat reeds meer as ‘n duisend jaar gelede by die Amerikaanse kus aangedoen het en kort daarna kolonies begin oprig het.
Volgens Wicken kan die naam Amerika afgelei word van die Nordiese woorde omme en rike (uitgespreek rika). Dit beteken letterlik terugvertaal “die verste land.”
Die “rike” kan ook herken word in die Duitse woord “Reich” of in Afrikaans in “ryk.” In Sweeds staan Swede vandag as Sverige en in Noors Noorweë as Norege bekend, en kan die woord herken word. Verl die verwysing na Noorweë word egter aangeval.
Wicken se teorie het in ongeveer 1980 die lig gesien. Danksy sy verbintenis met die Orange Street Congressional Church in Londen, het die artikel op dié kerk se webbladsye beland, en duik dit nou gereeld as besprekingspunt in ander webbladsye op. Veral die laaste paar jare – sedert 2007, word dit onder die loep geneem.
Finn Magnussen, ‘n Yslandse regsgeleerde en argeoloog ( 1781 1847) het gemeen dat Columbus Ysland minstens een keer, in 1477, besoek het. Omdat die Yslanders volgens baie aanduidings nog kontak met “Ommerike” gehad het, of minstens nog daarvan geweet het, is dit baie waarskynlik dat Columbus hier van daardie groot land in die Weste kon verneem het.
Die Noormanne het egter volgens die oorgelewerde saga meer dikwels na die ontdekte gebiede in Amerika as Vinland, Markland en Helluland verwys, name wat Bjarni Herjolfsson aan die plekke gegee het waar sy skepe aangedoen het na hulle op reis tussen Ysland en Groenland van koers afgewaai is. Veral Vinland is bekend.
Wicken is egter oortuig dat ander skepe wat tussen Bristol en Ysland gevaar het, reeds vroeër van die groot land daar ver geweet het.
Ander bronne is ook oortuig daarvan dat Iere met Yslandse verbintenisse en ander Yslanders lank hiervoor reeds in Amerika (ook Groot Ierland genoem) beland het. Selfs Baskiese vissermanne het dalk al lank gelede hier aangedoen.
Martin Waldseemüller, die Duitse fotograaf wat kort na Columbus se reise die eerste kaart met die naam Amerika op voltooi het, het self aangedui dat hy dit na Amerigo Vespecci vernoem het. Trouens, dié volledige naam kom in die vol Latynse titel van die kaart voor.
Wicken se storie mag ‘n fabel wees, maar dit maak interessante leesstof uit. Pre-Columbus-besoeke aan die Nuwe Wêreld is ‘n fassinerende veld waar rafels van feite, sagas en mites inmekaar vloei. Die skep die ruimte om die verbeelding op loop te laat gaan, en Wicken het met slim weglatings en die aanbied van bespiegeling as feite, amper-amper daarin geslaag dat ernstige historici van hom kennis moes neem en die wêreld reghelp.
