Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking se direkteur-generaal dr. Ayanda Ntaluba het gesê Clinton sal op 6 Augustus in Suid-Afrika aandoen nadat sy haar toer in Kenia afskop. Sy sal sewe lande in Afrika besoek.
Sy sal haar eweknie Maite Nkoana-Mashabane ontmoet om oor bilaterale verhoudinge te praat.
Onder presidente Nelson Mandela en Bill Clinton het daar 'n aktiewe binasionale kommissie bestaan, maar die afgelope agt jaar was daar 'n bewuste besluit van die Bush-administrasie om 'n meer informele struktuur te vestig, volgens Ntsaluba.
"Die twee ministers sal volgende week ontmoet om te besluit watter soort struktuur hulle onder 'n nuwe administrasie wil hê. Hulle mag dalk nie na 'n binasionale kommissie kyk soos dit voorheen opgestel was nie, maar dit sal nietemin iets baie gestruktureerd wees."
Ntaluba het bygevoeg dat Nkoane-Mashabane Clinton ook sal inlig oor gebeure in Zimbabwe en Madagaskar.
Clinton sal behalwe Kenia en Suid-Afrika ook Angola, die DRK, Nigerië, Liberië, en KaapVerde besoek.
