Gaan die uitslag van die Nederlandse verkiesing België se einde verhaas?

 Die Nederlanders het hul kruisies getrek – of ‘n “skrale “ 74 % van die kiesers

Die sterkste party voor die verkiesing, die Christen-Demokratiese Appèl (CDA), het sleg teruggesak. Saam met hom het die ChristenUnie (CU) steun verloor.

Beteken dit die Christen-demokrate is op pad uit in ‘n streek waar dit lank ‘n sterk krag was? Is dit slegte nuus aan die vooraand van die Belgiese algemene verkiesing waar die aanduidings ook is dat Christen-Demokrate gaan bloei ten koste van “regse” partye?

Weer eens. Die Nederlandse pers sal gou vir ‘n buitestander verduidelik die Nederlandse politiek is veels te skisofrenies om te verstaan. Ook vir Nederlanders, as ‘n mens die wyd-uiteenlopende kommentare van kenners neem. Daar is niks van die selfversekerde bravade wat Suid-Afrikaanse kommentators kenmerk nie (en dikwels so in die kol is soos om die maan vir kaas aan te sien).

Ook nie as ‘n mens na die leserskommentare op die internet kyk nie.

Pas het hulle die regse party van Geert Wilders van 9 tot 24 setels aangehelp, maar om de dood of iemand sommer sal erken dat daar ‘n beweging na regs was. Die naaste wat hieraan gekom word is dat Wilders onverskoond en helder pro-Israel is, en anti-Islamities. Die partye van wie dié beleid eintlik verwag word, die Christen-partye soos die CDA en CU, was hieroor te verskonend.

Die CU was waarskynlik die slagoffer van sy ou probleem. Kiesers wil graag vir die CU stem wat ‘n duideliker Christelike boodskap oordra oor sake soos aborsies en genadedood, maar as dit lyk of die groter CDA noustrop gaan trek, gaan stem hulle daar om die CDA uit die moeilikheid uit te stem.

Dit meen baie lesers, was wat nou gebeur het. Die CDA was dié keer kniediep in die moeilikheid.

Christen-demokratiese partye wêreldwyd het tradisioneel ‘n sterk simpatie met Israel. Toe die CDA en die CU hieroor kopsku raak, het kiesers eenvoudig gevoel dat hulle dan vir die party stem wat nié die beskroomdheid aan die dag lê nie. Niemand sê dit nie, maar die baie Moslem-immigrante het waarskynlik meer hiermee te make as ‘n besondere sagte plekkie vir Israel.

Ander kyk meer mikroskopies na die saak. Premier Balkenende was te lank in die stoel. Hy was nog nooit baie dinamies nie, en nou ook nie. So iemand rook in die reël nie die pyp so lank as wat hy dit gedoen het nie.

Soortgelyk, meen waarnemers binne die ChristenUnie, het hulle hul gewilde leier, André Rouvoet, te wyd aangewend. Hy was vise-premier, minister en partyleier. Boonop, as deel van die regering, kon sy party wat op ‘n reputasie van goeie administrasie probeer bou het, nie die negatiewe impak van ‘n regering vryspring wat foute gemaak het nie.

Hoewel die liberale VVD as die sterkste party uit die stryd getree het, sou dit ‘n fout wees om die verkiesing as ‘n swaai na links te beskou. Die meer gematigde Partij van de Arbeid het ‘n knou weg, en die Sosialisteparty wat na die vorige verkiesing deelname aan die koalisieregering gebied is, word nou selde indien ooit in berigte genoem en nog minder bespreek.

Trouens, die situasie herinner op die oog af aan dié van naburige Duitsland, waar Angela Merkel se CDU eers met die sosialiste in ‘n gedwonge koalisie moes verkeer, en toe na die volgende verkiesing dié meulsteen kon afwerp, en met die liberale in koalisie kon tree. Almal is dit eens dat dit ‘n swaai na regs verteenwoordig het.

Of ‘n uiteindelike regerende koalisie in Nederland ook as ‘n beweging na regs beskou kan word, sal die tyd leer.

‘n Gedagterigting wat ook nie heeltemal uit die oog verloor moet word nie, is dat die Christen-demokrasie as ‘n oorgangsfase beskou kan word uit die era toe Nederland onder die bewind van Joop den Uyl ‘n werklike linkse hoogtepunt (of dalk eerder laagtepunt) bereik het. In hierdie permissiewe era het situasies ontstaan waarop die jonger generasie nie trots is nie. Met Calvyn se 500ste geboorteherdenking is in ‘n opname selfs gevind die jonger geslag Nederlanders is meer Calvinisties as hul ouers. Uiteraard kan die woorde wel uit Nederlands na Afrikaans vertaal word, maar om die dieptebegrip en konteks hiervan aan Suid-Afrikaanse lesers oor te dra, soos presies hoeveel godsdiens in so ‘n bevinding ingelees moet word, is ‘n ander saak.

Teen hierdie agtergrond kan maar net bespiegel word watter uitslag in België verwag sal kan word. In die geval van Nederland was die vraag of Wilders so goed gaan vaar dat dit buite die kwessie sou wees om hom uit ‘n koalisie te sluit. In die geval van België is die vraag of België lank na die uitslag nog as ‘n staat kan voortbestaan.

Hieroor kan ‘n mens bloot bespiegel, en terwyl ‘n mens dit doen kan ‘n mens net sowel die verbeelding laat koers neem.

Op sy mees oppervlakkige klink dit of daar ‘n moontlikheid kan wees dat Nederland en Vlaandere kan saamsmelt. Die ou Rooms-Katolieke / Protestantse verdeeldheid is nie meer so sterk beklemtoon nie, en die grens sny verskeie provinsies, selfs met eiesoortige dialekte, deur die middel. Die meer waarskynlike is egter ‘n Vlaamse republiek.

Op die oomblik subsidieer die meer welvarende Vlaminge die Franssprekende Wallonië met miljarde Euro’s per jaar. Sonder Vlaamse hulp is Wallonië dalk nie meer besonder lewensvatbaar nie, en die Franse is volgens opnames meer geredelik inskiklik om Wallonië in te lyf.

Dit laat die vraag ontstaan: Met Vlaandere ‘n republiek of by Nederland ingeskakel, en Wallonië by Frankryk, waar laat dit die Belgiese koningshuis? Dié monargie word tradisioneel veel meer met die Franssprekendes as die Nederlandssprekendes geassosieer. Frankryk is tradisioneel ‘n taamlik gesentraliseerde staat, selfs wat ‘n oorsese provinsie soos Frans Guyana betref, en om ‘n koning oor ‘n provinsie, of direktoraat te laat heers, is moeilik in te dink.

Daarbenewens in die hoofstad Brussels amptelik veeltalig, maar in die praktyk meer Franssprekend maar omring deur Vlaamse grondgebied. Hoe gemaak hiermee?

Deur baggerwerk en ander ontwikkelings is Antwerpen in Vlaandere al tot ‘n heel geskikte hoofstad ontwikkel, en is die Vlaminge stellig nie besonder verleë om Brussel as hoofstad te behou nie. En dié soort scenario-sketsery slaan plek plek wyd met implikasies, soos Duitsland wat reeds begin bod insit dat Navo sy hoofkwartier na sy oud bondshoofstad, Bonn, verskuif. Weens die onduidelikheid oor Brussel se toekoms, word gefluister.

Die kompleksiteit eindig egter nie daar nie. België het ‘n derde, belangrike bevolkingsegment, naamlik die Duitssprekende deel. Dis wel in omvang nie so groot en beduidend soos die Vlaamse en Franssprekende dele nie, maar dit is staatkundig verskans. As deel van België is hul idilliese omgewing nooit ver van die openbare oog nie, as deel van Duitsland is dit waarskynlik ‘n eenkant-randgebied.

instagram clothing linesлобановский александр харьков