Ek is geen regsgeleerde nie, maar tydens my diens by die volkstaatraad het befaamde regsgeleerdes soos prof Hercules Booysen en adv Chris de Jager ons slim gemaak om die volkereg mbt selfbeskikking te verstaan. Sommige mense verwys daarna as die internasionale reg. Met daardie onderliggende bietjie kennis, en aan die hand van my eie navorsing, wil ek graag ‘n baie belangrike saak vandag aanroer.
Gewapende konflikte tussen strydende partye van dieselfde land word deur verskeie woordeboeke as burgeroorloë gedefinieer. Volgens die Webster-woordeboek is ‘n burgeroorlog ‘n oorlog tussen geografiese streke of politieke faksies van dieselfde nasie.
Om tussen burgeroorloë en kleiner opstootjies te onderskei, kwantifiseer ander bronne die getal sterftes gedurende die tyd wat die stryd gewoed het. Daar word algemeen aanvaar dat daar minstens 1000 sterftes tydens so ‘n gewapende stryd moet wees.
Die motiewe vir burgeroorloë word soos volg omlyn: Enige groep wat ‘n ander groep met gewapende geweld aanval met die doel om grondgebied of natuurlike hulpbronne te bekom, is besig om oorlog te maak teen die ander groep.
Of die regering die heersende burgeroorlog erken of nie, of dat dit sy bedoeling is om ‘n burgeroorlog in Suid Afrika aan te vuur of nie, is nie ter sake nie. Wat wel ter sake is, is die feit dat die regering die feitelike situasie nie wil erken nie, en dit as gewone misdaad tipeer. Gister nog het Minister Mthetwa gepleit dat mense moet ophou om ‘n politieke motief aan die plaasmoorde te koppel. Op dieselfde dag is daar egter nog twee bloedige insidente, waar niks geroof is nie. Watse “misdaad” is dit?
Die klaarblyklike motief vir die barbaarse plaasmoorde is om boere van hul plase te verjaag deur ‘n vreespsigose te skep. Grondgebied en natuurlike hulpbronne is ‘n tipiese motief vir burgeroorloë tussen verskillende etniese groepe in Afrika.
Deur die skuld vir die moorde dan op die boere te pak, word die geweld gekondoneer en word die regering aandadig aan die gruweldade.
In 1996 het die regering die Eerste Protokol van die Geneefse Konvensie onderteken. Die NP-regering het vroeër geweier om dit te doen, omdat dit volgens hul mening die staat se vermoë om burgeroorloë te bekamp of te verhoed in die wiele sou ry.
Die RSA-regering is egter nou aan die reëls van daardie Protokol verbind, wat ‘n jus cogens-verpligting op die staat plaas.
Jus cogens word beskryf as ‘n oorheersende en gebiedend noodsaaklike verpligting wat op ‘n staat gelê word. Enige oortreding daarvan is strydig met die fundamentele reëls van die volkereg.
Sommige bronne beweer dat ‘n jus cogens-norm die volgende kriteria moet hê:
- Die doel van die jus cogens-norm is die beskerming van ‘n gemeenskap se belange;
- die norm moet aan moraliteitsbeginsels voldoen;
- die norm moet van ‘n absolute aard wees, dws daar is geen ruimte vir enige ander vertolking nie;
- die oorgrote meerderheid nasies moet die gebiedendheid daarvan erken.
Dus, alle state wat hierdie norm oortree, staar wettige vergeldingsmaatreëls deur die lydende staat of gemeenskap in die gesig.
Hierdie jus cogens norm is ook van toepassing op burgeroorloë, en op krygsgevangenes van so ‘n oorlog. Deur hulle as gewone misdadigers te beskou, en onmenslik te behandel, of in voetboeie in die openbaar te paradeer is dus strydig met die bepalings van die Eerste Protokol wat die meeste state onderteken het.
Aan die hand van bogenoemde is Suid-Afrika reeds sedert 1994 in ‘n volskaalse burgeroorlog gewikkel, deurdat duisende slagoffers jaarliks omkom. Dit is ‘n feit wat deur die media verswyg word, en wat nooit deur die ANC-regering erken sal word nie, aangesien dit ‘n bewys is dat die onderhandelde skikking van 1993/1994 ‘n mislukking was.
Dit sal ook die regering se siniese ingesteldheid aan die kaak stel om voortdurend die verkeerde beleidsopsies ten opsigte van grondverdeling te neem en te ondersteun, sodat die gewapende geweld inherent aangemoedig word. Malema se uitsprake ná sy besoek aan Zimbabwe versterk die motiewe vir ‘n burgeroorlog.
Iemand het onlangs op die Praagwerf geskryf dat ‘n streep in die sand getrek moet word, en het voorgestel dat daardie lyn oorgesteek sal word met die eerste gewelddadige plaasbesetting.
Afrikaners sal dus waarskynlik heeltemal binne hul regte wees om eersdaags die regering daarvan te verwittig dat hulle hulle in ‘n staat van burgeroorlog verkeer teen ‘n onsigbare guerillamag wat ten doel het om Afrikaners uit te moor en van hul plase te verdryf.
Die regering moet ook ingelig word dat, soos in enige ander burgeroorlog, die lydende party sy volkeregtelike regte sal uitoefen om sy goed en bloed teen insurgente te beskerm.
Die jus cogens-bepalings van die Geneefse Konvensie se Eerste Protokol sal dus van toepassing wees op sy lede wat hulle nie noodwendig aan die insurgente se grondwetlike regte sal laat lei nie, maar deur die aanvaarde volkereg betreffende burgeroorloë. Voordat dit kan gebeur, sal indringende gesprekke deur die Afrikaners se te stigte gesagsowerheid met die regering gevoer moet word. Die gesagsowerheid sal sy saak ook aan buitelandse howe stel om uitspraak te verkry.
Die RSA-grondwet bind die staat tot die bepalings en bevindings van die volkereg.
Afrikaners sal dus gou moet speel om hul volkshuis in orde te kry, want die intensiteit van die heersende burgeroorlog is besig om in felheid toe te neem.
