OFM en Jacaranda plaas verbod op Steve Hofmeyr

Die bestuur van die radiostasie OFM het ‘n verbod op Steve Hofmeyr se musiek geplaas omdat hulle van sy politieke oortuigings verskil.

Volgens die radiostasie is Hofmeyr nie meer ‘n “hoofstroom”-kunstenaar nie.

Gary Stroebel, uitvoerende hoof van Central Media Group, wat OFM besit, het die verbod bevestig nadat Hofmeyr op sy Facebook-blad gesê het OFM en Jacaranda FM weier om musiek van sy jongste album, Toeka 3, te speel.

Volgens Stroebel het Hofmeyr aangehou om “Die Stem” te sing nadat hy uitdruklik gevra is om dit nie te doen nie.

“Dis jammer dat hy gekies het om so op te tree teenoor dié stasies wat gehelp het om sy mediaprofiel te bou – en sy fortuin te maak – omdat dit sy persoonlike politieke ambisies pas.”

Stroebel het verder gesê Hofmeyr moet die stasie direk kontak om sy klagtes te bespreek en nie “sy vuil wasgoed in die openbaar uithang nie”.

Kevin Fine, bestuurder van Jacaranda FM, het in reaksie op die die verbod gesê Steve se musiek is nie goed genoeg nie. “As die liedjie nie goed genoeg is nie, sal dit nie die speellys haal nie.”