Sokkerpolitiek in Suid-Afrika kom al van ver af. Buthana Komphela en Seppie Frolik kan gaan slaap as hulle dink hulle het politieke inmenging in sokker uitgedink. En selfs Griekeland, Kenia en Iran wat al hieroor uit Fifa geskors is, kan gaan slaap. In die Namakwaland in is dit al lankal uitgevind én vervolmaak.
Pa-Jan se suster, tannie SC, het vertel hoe hulle kleintyd daar op Nieuwoudtville sokker speeltye by die skool gespeel het. Dit was die dae van Smelters en Gesuiwerdes, en die grootmense se politieke verdeeldheid het so diep geloop dat dit na die kinders deurgeloop het.
Pouses was dit die Gesuiwerdes wat die Smelters op die “sokkerveld” die stryd aangesê het. Of liewer, hul kinders.
Die sokker wat die kinders opgedis het, kan dalk nie met die poer-poer sokker wat nou by die wêreldbeker opgedis word, vergelyk nie. In elk geval nie wat entoesiasme betref nie. Pa-Jan het gesê dit het soos twee spanne honde gelyk wat ‘n vlakhaas op die sportterrein jaag. Die bal, die vlakhaas, en die speler wat eerste by was, het dit ongeag die posisie op die veld, met alle mag na die opponente se pale geskop. Gelukkig was daar nie skeidsregters nie, want sou daar wees sou die rooikaarte gesorg het dat die wedstryd gou oor sou wees, selfs te gou vir klein pouse.
Danksy ds. Steenkamp, wat later ‘n rukkie Amerika toe is en met sy terugkeer gesê het is nou ‘n mediese dokter, en toe SAP-parlementslid geword het, was daar in hierdie kol bietjie meer Smelters as wat mens andersins sou verwag.
Maar die bakleilus tussen die Gesuiwerdes en Smelters was hier nie minder erg as elders in die land nie, soos Ladybrand se stadsaal se deftige voordeur wat kosyn en al uit die muur uit gebaklei is.
Kom maar op enige dorpie, soos byvoorbeeld Philippolis, en gaan kyk in die venduasiekrale se stoor hoe lyk die stoele van daai tyd. Dit was sulke hout opslaanstoiele wat sulke lang rye aanmekaar vas was. Heel stewige stoele, maar waar mens hulle raakloop is daar ook genoeg in die stoorkamer wat mens laat wonder hoe daai stoele so flenters geraak het.
Hulle is so gebaklei, man. Vat nou so ‘n lang ry opvoustoele, ‘n fris boer en ‘n paar politieke opponente. Dan is daai ry stoele darem ‘n gawe mokerding. ‘n Fris boer kan met een hou maklik vier gesuiwerdes, of ses smelters buite weste moker. Dít, het wyle pa-Jan vertel, is hoekom so baie van daai stoele in daai treurige toestand is.
En as Johny de Lange met daai voltreffer in die parlement op dr. Manie Schoeman gedink het hy het die resep uitgevind om iemand van party te laat verwissel, is hy maar laat.
Soos ek die storie onthou, was daar die aand in Calvinia se stadsaal ‘n politieke vergadering, en in die skoolsaal nog een. As dit nie was dat pa-goed gesê het die Smelters het nog opvoeding nodig gehad nie, sou ek nooit geonthou het wie was in watter saal nie.
Maar die Gesuiwerdes se spreker was, anders as die Smelters s’n, droog en oninspirerend. Heeltemal uit pas met die hitte van die politieke era. Ook nie lank nie, vlieg ‘n man in die gehoor op en skree: “Ek sê, kom ons los hierdie vergadering, en gaan d*nder die Smelters!”
Die spreker ag dit sy plig om die grondbeginsels van demokrasie neer te lê. ‘n Rukkie is dit stil, maar toe is dit weer so. Nog ‘n ongeduldige lid van die gehoor wat meen dis veel aptytliker om die Smelters te gaan d*nder.
Weer paai die spreker.
Toe ‘n vyfde lid van die gehoor opvlieg en meen dis beter om maar hier te los en die Smelters te gaan regsien, is die spreker self half m*erig.
“Wil jy my nou wysmaak jy sal ‘n Smelter regged*nder kry?”
“Ja! Ek was ‘n Smelter, en hoe het ek reggekom? Ek is regged*nder! Ek sê ons los hierdie vergadering en gaan d*nder die Smelters!”
Teen hierdie goed-beredeneerde logika, wat so suiwer uiteengesit is, had die spreker geen verweer nie. Die manne stroom uit, sommiges met die lang rye opslaanstoele onder die arm, en sit af skoolsaal toe.
G’n niks ‘n gesissie-storie soos Julias wat die polisie opdrag gee om sy opponente te laat toesluit nie. Dis selfhelp-politiek op sy allerbeste.
Later het die baie bekende storie ook uit hierdie dampkring ontstaan. Die referendum oor republiek of nie, is onderweg, en mense vir en teen die republiek reis die land vol en spreek vergaderings toe.
Natuurlik werk dit nie vreeslik nie, want elke groep gaan luister na hul eie sprekers, en dus oortuig niemand vir niemand nie.
Maar een maer mannetjie waag dit om by ‘n pro-republiek-vergadering op te daag.
Toe die spreker sy storie klaar gestorie het, vlieg die mannetjie op, en skree: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!”
Die spreker verduidelik geduldig, maar is net klaargepraat, dan vlieg die mannetjie weer op en gil: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!”
So met die vierde opvliegslag had die fris tante wat reg agter hom gesit het, genoeg. Sy druk hom op die skouers plat, terug in sy stoel in, en toe sommer die stoel heel flenters, terwyl sy kliphard vir hom sê: “Sit str*nt, ék sal jou beskerm?”
Hiermee is die argument vir die republiek toe ook gewonne.
Pa-Jan en tannie SC het baie staaltjies van ds. / dr. Steenkamp vertel, maar dis ‘n storie op sy eie. Johan van Wyk, jare lank Volksblad se skrywer van die rubriek, Stop van Myne (nou Goeiemôre na die dampielus so teenspoed gekry het), het by geleentheid ook iets oor dr. Steenkamp as politikus se wel en weë geskryf.
Sy groot verkiesingsbelofte was die bou van ‘n groot dam. Maar toe dr. Steenkamp verkies is, is hy vort Kaap toe en in sy kiesafdeling so skaars soos hoendertande. Die dam, nog skaarser.
Naderhand is dit weer verkiesingstyd, en dr. Steenkamp maak ‘n slag sy opwagting. Die bloed kook behoorlik oor die beloofde dam waarvan niks gekom het nie. Met vraetyd is dit sommer die eerste vraag ook. Nou wat van daai gebeloofde dam?
“Nee,” verduidelik dr. Steenkamp, hy was skaars in die parlement toe verduidelik hy die behoefte aan die dam. En daai dam was sommer dadelik so te sê gebou ook, toe breek die oorlog met die Duitsers uit.
“Toe dink ek so by my sigselwers, maar as daai dam nou vol reën en die Duitsers kom en bombardeer daai dam, dan loop versuie al die goeie mense hier oor die Knersvlakte tot by die see. Ek sit toe dadelik af na die minister toe en pleit dat die dam tog nie gebou moet word nie.”
Van Wyk skryf hiermee was die argument goed gewen, en die dak lig behoorlik soos dr. Steenkamp toegejuig is.
Maar hierdie storie moet mens dalk nie te wyd laat loop nie. Netnou lees pres. Zuma dit, en gaan bedink hy iets om vir die massas te verduidelik hoekom hulle nou eintlik so geseënd is om sonder beloofde dienste oor die weg te moet kom. Soos: “Mense, dink net, as julle behoorlike dienste gehad het kon julle ook stort. En, so klink dit my na ‘n bohaai, stort werk nie teen vigs nie. Dink net hoe gelukkig is julle om in die basins te moet was.”
Ja, nee, bring my enigiets oor vandag se politiek en ek sal bewys dat dit al ou, ou nuus in die Namakwaland in was.
