Moordenaars trek Terre’Blanche se broek af

Twee plaaswerkers, onderskeidelik 15 en 28, is Dinsdagmiddag amptelik in Ventersdorp in die landdroshof aangekla op vier aanklagte waaronder die moord van die AWB-leier, Eugene Terre’Blanche.

Volgens adv. George Baloyi van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is Chris Mahlangu (28) en ‘n minderjarige (wie se identiteit nie bekend gemaak kan word nie)  aangekla van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede, crimen injuria en poging tot roof met verswarende omstandighede.

Die aanklag van crimen injuria is deur Baloyi verduidelik: “Na die moord het hulle Terre’Blanche se broek tot by sy knieë afgetrek om sy geslagsdele te ontbloot”.

Die saak is uitgestel tot 14 April. Die verdagtes het nog nie teen die aanklagte gepleit nie.

“Die saak is vir sewe dae uitgestel sodat die kriminele kapasiteit van die minderjarige verdagte bepaal kan word. Daar moet vasgestel word of hy daartoe in staat was om so iets self te doen en of hy instruksies ontvang het.”

Volgens Baloyi was daar Dinsdag twee sessies, een informeel en die ander formeel. In die informele sessie is die aanklagte geformuleer en die feite opgesom en in die tweede is onderhorigheid aan die nuwe wet se bepalinge uiteengesit.

Die hele verhoor sal in camera plaasvind as gevolg van die betrokkenheid van ‘n minderjarige.

Menzi Simelane, hoof van die NVG, het bevestig dat daar slegs een verhoor sal wees omdat inligting toon dat “slegs die twee verdagtes by die misdaad betrokke was”.

Die saak kan moontlik na die hooggeregshof verskuif word, maar die Ventersdorp-gemeenskap wil hê dit moet in die dorp self plaasvind.

Die regsverteenwoordiger van die 15-jarige, Zola Majavu, het ‘n boodskap van die jeugdige aan die gemeenskap gehad: “Moet asseblief nie my gesin kwaad aandoen nie.”

Gesinslede het aan Sapa gesê hulle is “getraumatiseer” en bang. Hulle vrees glo vir hul lewens.

Die jeugdige het nie Dinsdag geëet nie en sy moeder was glo te bang om die hofsaal te verlaat. Die regsverteenwoordiger het belowe om na haar veiligheid om te sien.

для покраскилобановский александр харьков