Skotse leier bedank na leë Britse beloftes

Skotland se Eerste Minister en leier van die Skotse Nasionale Party (SNP) het bedank uit sy amp nadat hy Donderdag se onafhanklikheidsreferendum moes prysgee en die Britse premier David Cameron aangedui het dat hy nie beloftes teenoor die Skotte sal nakom nie.

Die “Nee”-veldtog het met 55 persent van die stemme teen 45 persent se “Ja” stemme gewen.

“Ons het die referendum verloor, maar Skotland kan nog steeds die politieke inisiatief dra,” het Salmond aan joernaliste en ondersteuners gesê.

“Vir my as leier is my tyd amper verby, maar vir Skotland gaan die veldtog voort en die droom sal nooit sterf nie.”

Salmond sê daar is ‘n “aantal uiters bekwame en baie geskikte kandidate vir die leierspos.”

Salmond het gesê hy is trots oor die historiese 85 persent van kiesers wat in Donderdag se referendum gestem het en die wyse waarop die Skotte hulself gedra het.

“Ons het nou die geleentheid om Westminster te druk om hul beloftes wat hulle gemaak het na te kom om verdere betekenisvolle mag af te wentel na Skotland. Dit plaas Skotland in ‘n baie sterk posisie,” het hy gesê.

Salmond het Vrydag met premier David Cameron samesprekinge gevoer. Hy het gesê Cameron wou homself nie verbind tot afgewentelde magte soos vervat in die “Scotland Bill” wat deur die oud-premier Gordon Brown belowe is tydens die veldtog nie.