'n Regsgeleerde wat uitgewers in Botswana verteenwoordig, het gesê hulle het die eerste stap geneem wat hopelik sal lei daartoe dat 'n nuwe mediawet ongrondwetlik verklaar sal word.
Batsho Nthoi, prokureur, sê die regering is Woensdag in kennis gestel dat hulle gedagvaar gaan word oor die wet.
Die uitgewers en mediaregtegroepe sê die wet wat verlede jaar aanvaar is, bedreig die grondwetlike beskerming wat vryheid van spraak geniet. Die regering meen egter dat die wet mediavryheid waarborg en etiese standaarde bevorder.
Die veelbesproke wet maak voorsiening vir 'n mediaraad met 'n klagte- en appelkomittee waarvan die lede deur die minister van kommunikasie aangestel word. Botswana het reeds 'n onafhanklike, selfregulerende persraad en regslui meen die regering is besig om te probeer om staatbeheer oor die media uit te oefen.
