Al 167 mynwerkers by Blyvooruitzicht-goudmyn naby Carletonville in die Noordwes-provinsie is na die oppervlak gebring meer as 24 uur nadat hulle ondergronds vasgekeer was, het 'n woordvoerder van die myn gesê.
"Myningenieurs het daarin geslaag om die krag na die sub-skag en die hoofskag se hystoerusting te herstel by die nommer 5-skag en werknemers is na die oppervlak gebring. Geen werknemer is beseer nie," het James Duncan gesê.
Duncan het gesê dat die werknemers gedurende die tyd ondergronds in skuilinggebiede was, waar daar voldoende water en ventilasie was.
"Kontak per telefoon gehoud tussen die werknemers en die oppervlak, en twee protospanne het ook vroeër die dag die gebied bereik deur alternatiewe skagte," het hy gesê.
Ses werknemers wat vroeër na die oppervlak gebring is, is na die hospitaal geneem vir potensiële rookinaseming, maar is later ontslaan.
Saterdag het weerlig die twee substasies getref wat die krag voorsien aan nommer 5-skag, wat gelei het daartoe dat die 272 werkers ondergronds vasgekeer is. Dit was hoofsaaklik onderhouds- en belangrikedienstepersoneel gewees.
Hulle het gewerk op ses vlakke tussen 2 294 meter en 2 882 meter onder die grondoppervlak toe weerlig die Eskom-elektriesesubstasie en 'n mynsubstasie getref het, het Duncan gesê.
Die weerlig het die substasies beskadig en 'n totale kragonderbreking veroorsaak by die skag. Kabels het aan die brand geslaan, wat veroorsaak het dat rook in die skag en ondergrondse werksplekke ingetrek het.
Die brand is vinnig geblus.
