Die maatskappy se direkteur van Innovering en Ontwikkeling, Neil Higgs sê terwyl hierdie siening deur die meerderheid mense van verskeie kulturele, ekonomiese en religieuse sfere gehandhaaf word, ondersteun diegene in informele nedersettings en agterplase dit baie sterk.
Vier-en-tagtig persent van krotbewoners handhaaf hierdie siening, gevolg deur hostelbewoners en inwoners van agterplase met 72- en 77% respektiewelik. Higgs sê die uiterste verskille in perspektief oor armoede as die grondoorsaak van misdaad onder krotbewoners wys op die desperate gedrag wat hulle rondom hulle sien by diegene wat na 'n beter lewe soek. Slegs 51% van mense wat ondervra is, het die ongeregtighede van die verlede geblameer as die grondoorsaak van misdaad.
Slegs 'n minderheid witmense (30%) in die opname het hiermee saamgestem terwyl 65% Indiërs en 55% swartes en gekleurdes wel saamgestem het. Volgens Higgs voel sosioloë dat die ongewone geweld wat met misdaad geassosieer word, te doen het met kulturele "depersonalisering" wat die suiwer resultaat is van die onderdrukking wat met apartheid geassosieer word.
Die studie het bevind dat meer as agt uit tien mense voel dat misdaadvlakke nie besig is om af te neem nie maar 'n vyfde van dié mense het egter toegegee dat hulle roofgoedere aankoop. Higgs sê 'n kwart van die mense wat aan die opname deelgeneem het, ken ander wat gesteelde goedere aankoop. As die mense by die polisie aangemeld sou word, sou die mark vir gesteelde goedere verdwyn.
