Lid van Zuma-beskermingseenheid skuldig bevind

Vonnisoplegging van ‘n lid van die presidensiële beskermingseenheid sal na verwagting Donderdag in die Potchefstroom-landdroshof begin.

Malose Makonyane is Woensdag skuldig bevind op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging, die rig en afvuur van ’n vuurwapen, roekelose bestuur, asook die roekelose ingevaarstelling van persone.

Sy medebeskuldigde, Sankoela Lepota is vrygespreek nadat Landdros Louisa Mabille bevind het dat daar nie genoegsame bewyse was om Lepota skuldig te bevind op die aanklagte teen hom nie.

Die saak hou verband met ‘n padwoedevoorval in Augustus 2013 op die N12 waartydens ‘n skoot afgevuur is op ‘n wit egpaar en hul motor se linkervoorwiel getref is.

Twee van Zuma-beskermingseenheid wat op motor skiet se saak uitgestel

Twee lede van die presidensiële beskermingseenheid sal volgende jaar in die Potchefstroom-landdroshof hoor of hulle skuldig aan poging tot moord is

Die transkripsie van die uitspraak was nie vanoggend gereed nie. Gevolglik sal Sankoela Lepota en Malose Makonyane eers op 15 Januarie hoor wat die hof se bevinding is.

Beide mans staan tereg op ’n aanklag van poging tot moord wat verband hou met ‘n voorval in Augustus 2013 op die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp.

Die swartes het na bewering ‘n skoot afgevuur op ‘n groen Uno, en die motor se linkervoorwiel getref.

Die insittendes, Schalk en Nadine Enslin, is nie in die voorval beseer nie.