Suid-Afrika het uitgevaar oor ‘n koerantrubriek waarin apartheid geloof word as ‘n model vir Japan se immigrasiebeleid, het Sapa berig.
Die rubriek is geskryf deur Ayako Sono, die premier van Japan se raadgewer oor onderwys. Volgens die koerant Sankei Shimbun het hulle ‘n brief van Mohau Pheko, Suid-Afrika se ambassadeur in Japan, ontvang in protes teen die rubriek.
Sono het geskryf dit is beter vir mense van verskillende rasse om apart te woon. Pheko het gesê Sono se rubriek verdra en verheerlik apartheid en dat dit ‘n skandelike en buitensporige voorstel is. Pheko het verder gesê ‘n segregasiebeleid is ‘n misdaad teen die mensdom en kan nie geregverdig word in die 21ste eeu nie.
Sono het geskryf dit is nodig vir Japan om immigrante te aanvaar, veral om vir die groeiende bejaarde bevolking te sorg, op voorwaarde dat hulle apart van die Japannese leef. “Sedert ek geleer het van die situasie in Suid-Afrika 20 tot 30 jaar terug, glo ek dat wit mense, Asiërs en swart mense apart moet woon.”
Sono het Saterdag aan die koerant gesê sy het nie bedoel om apartheid in Japan te bevorder nie. Die organisasie Africa Japan Forum, wat in Tokio gebaseer is, het Vrydag ook beswaar aangeteken die rubriek en geëis dat daar om verskoning gevra word aan die mense van Suid-Afrika.
