Burgemeesteres van Parys gee apartheid-fees ‘n op-duimpie

Die burgemeesteres van Parys, Anne Hidalgo, het in ‘n reeks twiete aangekondig dat ‘n “duidelike oplossing gevind is” aangaande die organisasie van die Afro-feministiese fees Nyansapo, wat witmense verbied om deel te neem: Wittes sal doodgewoon steeds verbied word.

Hiladgo het hierdie week apartheid verklaar en gesê dat die slegs-swart werkswinkels in elk geval sal voortgaan: “Die fees wat in ‘n openbare plek georganiseer word, sal vir almal oop wees. Nie-gemengde werkswinkels sal elders in ‘n streng privaat omgewing gehou word.”

Die burgemeesteres het gevra dat ‘n swart feministiese fees vroeër verban word omdat sy gesê het dat wit mense verbied word. Maar toe net daar weer van plan verander terwyl sy voorgee om “ferm” te wees.

‘n “Kompromie” is gevind in segregasie na die “ferm intervensie gister [Sondag] met die organiseerders”. Maar die Mwasi-kollektief het kort daarna verklaar dat die segregasie van die begin af so beplan is en so sal bly.

Die Mwasi-kollektief, wat die afro-feministiese gebeurtenis georganiseer het, was in hul antwoord erg sarkasties: “So basies is ons oorspronklike [gesegregeerde] program absoluut nie verander nie. Ons wag nou op ‘n formele mededeling van die stadsraad van Parys, en ‘n openbare verskoning,” het die lede van die vereniging op Twitter gesê.

Hidalgo het Sondag gevra dat die Nyansapo-fees in die Franse hoofstad uitgestel word, wat na verwagting van 28 tot 30 Julie by ‘n staatsbefondsde kultuursentrum gehou word.

Die gebeurtenis is bevorder as “gewortel in swart feminisme, aktivisme en op ‘n Europese skaal” en 80 persent van die feesgebied wat opsy gesit word as “nie-gemengde” ruimte vir swart vroue alleen” volgens sy Franse webwerf.

Die Engelse weergawe van die webwerf gebruik nie die woord “nie-gemengde” nie maar vertaal die rasse-apartheid met “gereserveer”.

Hidalgo, ‘n Sosialis, het aanvanklik op Twitter gesê dat sy die organisasie van hierdie gebeurtenis “beslis veroordeel” het, omdat blankes verbied word en bygevoeg dat sy die reg voorbehou het om die organiseerders vir diskriminasie te vervolg. Dit was toe ‘n leë dreigement.

Michel Delpuech, polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die polisie is nie Sondagaand oor die geleentheid ingelig nie.

SOS Rassisme het die gebeurtenis beskryf as ‘n fout, selfs ‘n gruwel, want dit veroorsaak etniese skeiding, terwyl anti-rassisme ‘n beweging is wat daarop gemik is om rasse te integreer.

Die Mwasi-kollektief is in 2014 gestig deur ‘n groep Afrika-vroue en gemengde rasse wat die behoefte gehad het om hul sienings rakende “onderdrukkings” wat verband hou met klas, geslag, seksualiteit of godsdiens aan te spreek.

Van die vier verskillende ruimtes, is drie voorbehou vir swart vroue, swart mense en “rasse”-vroue.

Nie net SOS Racisme en die linkse Licra-organisasie was verontwaardig oor die separatistiese beginsels nie, maar ook die Front National het die burgemeesteres van Parys oor hierdie “fees wat blankes verbied” uitgevra.

Die Internasionale Liga teen Rassisme en Antisemitisme – Ligue Internationale Contre le Racisme et l’Antisémitisme (LICRA) in Frans – is in 1927 gestig teen sogenaamde rasse-onverdraagsaamheid, vreemdelingehaat en uitsluiting.

Die Afro-feministiese kollektief Mwasi het die klagtes as “‘n veldtog van disinformasie en fopnuus georkestreer deur die mees verouderde verregges” veroordeel.

Hulle het bygevoeg: “Ons is hartseer om te sien dat sommige anti-rassistiese verenigings hulself laat manipuleer. Hulle bevind hulself paradoksaal aan die kant van rassiste om diegene wat pragmatiese voorstanders is van die waardes van gelykheid en respek, te stigmatiseer.” Die kollektief het die bygevoegde teks Sondag op sy webwerf gepubliseer.

Dit is nie die eerste keer dat sulke apartheid en segregasie die nuus in Frankryk haal nie. In 2016 het die organisasie van ‘n “dekoloniserende somerkamp” in Reims ‘n “opleidingseminaar oor anti-rassisme” bevorder, gereserveer vir slagoffers van wat hulle “staatsrassisme” genoem het, wat witmense verbied.

Hierdie berig is spesiaal nagevors vir PRAAG in Afrikaans. Sluit aan en help ons om fopnuus teen te werk!

Stryd teen anti-rassisme ‘n verkeerde perd om op te saal

Persoonlik dink ek nie dat Afrikaners, of dan nasionalistiese Afrikaners, werklik ‘n stryd voer nie. Ek sien nog geen massamobilisering van Afrikaners wat vir my werklik op ‘n stryd dui nie.

Dink maar hoe die UDF in die tagtigerjare nie gesukkel het om massas saam te bring nie. Waar doen Afrikaners dit rondom ‘n politiek ideaal? Jammer, maar kultuurfeeste tel nie. Ek praat nie nou van pret en partytjies nie, daarmee is ons klaarblyklik heel goed.

Nietemin, laat ons maar vir ‘n oomblik die enkele hofsake wat ‘n paar brawe siele (met hoogste waardering aan hulle) voer beskou as ‘n stryd. Daarby gooi ons sommer ook al die internet gesprekke en verklarings in. Hierdie is die “stryd” waaroor ek vandag skryf. Behalwe dat dit geen noemenswaardig populêre Afrikanerondersteuning toon nie, wat is nóg daarmee verkeerd?

Vir my is dit so sigbaar soos die son in die hemelruim. Dit gaan oor die “stryd teen anti-rassisme”. Vir die oningewyde blyk dit dat die debatvoerder teen anti-rassisme dan juis ten gunste van rassime is. Hierdie is die eerste struikelblok wat die gesprek teen anti-rassisme by die naïeweling nie gaan oorkom nie. Dit herinner my aan die AWB wat ‘n mank-swastika as simbool gekies het. As jy daardie vlag hys, gaan niemand jou as ‘n redelike persoon beskou nie. Vanuit die staanspoor is jy ‘n Nazi.

Wat die debat teen anti-rassisme nog verder kelder is dat dit deur Afrikaners gevoer word. Siende dat ons die argitekte van daardie “misdaad teen die mensdom”, nl. apartheid is, bevestig dit die aanhoorder se ergste vermoedens.

Nouja, as ingewyde verstaan ek heel goed dat die debatvoerder eintlik verwys na die rassisme wat deur anti-rassiste teen die wit minderheid gevoer word. Dit klink soos ‘n paradoks, maar dis ‘n werklikheid. Die oningewyde sal om vorig genoemde redes egter nooit die debat tot op daardie logiese punt volg nie. Dus is die gesprek verlore.

Nou dink ek mos: Waarom die paradoks in stand hou? Waarom nie reguit tot die logiese einde beweeg nie? As die gesprek oor die “anti-rassis” se rassisme teen Afrikaners handel, dan gaan die gesprek mos eintlik oor rassisme. Nie waar nie?

Persoonlik verstaan ek glad nie waarom Afrikaners nie hierdie ooglopende debat voer nie. Die klag van rassisme is so kragtig dat dit enige verweerder skadeloos laat. As linkses glo dat hulle oor ‘n monopolie op hierdie klag beskik, sal ons kaping daarvan eindelose wroeging vir hulle meebring, wat beteken dat hulle rassisme jeens ons in felheid sal toeneem en dus selfs meer ooglopend raak, vir almal om te sien.

Soos ek sê, ek kan nie verstaan waarom Afrikaners nie hierdie kragtige wapen opneem nie. Oral oor die wêreld is dit die oortreding wat die mag outomaties in die klaer se guns swaai.

Wat is die rede dat Afrikaners nie hul onderdrukkers hiermee aanvat nie? Glo Afrikaners daar steek dalk iets in rassisme en dat hulle dit dus ook nie by hul opponente wil aanspreek nie? Dan moet hulle vinnig hul houding verander, want hulle sal niks daarmee vermag nie. Of glo Afrikaners dat die groeiende Europese regse beweging ook die stryd teen anti-rassisme voer en dat die gety dus aan’t swaai is ten gunste van hierdie argument? Vergeet daarvan! Wat in Europa plaasvind, is wel ‘n stryd teen die onverdraagsaamheid van instromende Moslems, maar Europese regses het nog lank nie meerderheidsondersteuning nie. Boonop, gegewe dat Afrikaners mos “Nazi’s is”, sal enige poging deur ons om dieselfde standpunt in te neem, nie geduld word nie.

Maar waarom sou ons so ‘n argument in elk geval wou voer? Ons is nie ‘n meerderheid wit mense wat ‘n eerste-wêreldmoondheid in Europa bestuur nie. Ons vrees nie dat ons land deur donkeres oorgeneem gaan word nie. Nee! Ons het rééds alles verloor en ons ís ‘n oorheerste en teen gediskrimineerde minderheid. Ons hoef géén gekompliseerde gesprekke oor “anti-rassiste” of “kulturele marxiste” te voer nie. Nee wat, ons benodig nie sulke gevleuelde sosiologiese terminologie wat jan-alleman in elkgeval nie verstaan nie. Ons is “gelukkig”! Ons situasie is so sleg dat ons sommer die groot kanon kan uitruk. Daardie klag, ‘n ware wapen van massavernietiging wat die ganse wereld verstaan: Rassisme!