ANC-beampte gevang met perlemoen

‘n Plaaslike ANC-leier is Maandagoggend buite Hermanus gevang met 2474 vars perlemoene. Dit was na ‘n kort jaagtog in ‘n voertuig wat oortrek was met plakkers van die regerende party en sy leier, Jacob Zuma.

Die voertuig was onderweg van Hermanus na Gansbaai toe dit van die pad af geforseer is deur beamptes van Marine en Kusbeheer (MCM) en die polisie, volgens Janine van der Riet van die Hermanus Times.

Maryke Brand, woordvoerder vir die departement van omgewingsake en toerisme, het gesê die MCM beamptes het gereageer op ‘n wenk en die man probeer forseer om te stop.

“Die bestuurder het geweier omte stop en weggejaag, tot by Voëlklip, waar hy van die pad af geforseer is en in hegtenis geneem is,” het Brand gesê.

Die polisie het beslag gelê op swart sakke wat vol perlemoen was en ook op die voertuig, wat klaarblyklik aan ‘n ander ANC-amptenaar in die omgewing behoort het.

Hermanus polisiewoordvoerder kaptein David Julies het gesê die perlemoen het ‘n straatwaarde van ongeveer R3,2 miljoen.

Die man sou Dinsdag in die landdroshof op Hermanus verskyn op aanklagte van die onwettige besit en vervoer van perlemoen.

Garth Strachan, ANC-woordvoerder en Wes-Kaapse LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het met skok gereageer op die insident.

“Die wet moet sy loop neem, ongeag wie die indiwidu is. Kriminele gedrag moet gestraf word. Indien nodig sal ‘n dissiplinêre proses ook volg.”

лосины девочки описаниемДанильченко Харьков