’n Nuwe meningspeiling het die Amerikaanse president, Barack Obama uitgewys as die swakste Amerikaanse president sedert die Tweede Wêreldoorlog.
George W. Bush is die tweede swakste volgens die peiling.
Sowat 33 persent van die 1 446 geregistreerde Amerikaanse kiesers wat aan die Quinnipiac-universiteit se meningspeiling deelgeneem het, het Obama as die swakste president aangewys.
Bykans die helfte van die deelnemers dink Mitt Romney sou beter gewees het in die pos as hy in 2012 die presidentsverkiesing gewen het.
Die Quinnipiac-meningspeiling is een van talle meningspeilings wat Obama se ongewildheid beklemtoon.
Politieke omstredenheid en die fiasko van sy buitelandse beleid het hom tot rekordlaagtes gedwing. Net 40 persent hou van hoe hy Amerika se ekonomie regruk, terwyl net 37 persent sy buitelandse beleid goedkeur.
Die uitslae het ook getoon dat 35 persent van die kiesers dink Ronald Reagan, wat tussen 1981 en 1989 president was, die beste Amerikaanse president sedert 1945 was, met Bill Clinton (18 persent) tweede en die vermoorde John F. Kennedy (15 persent) in die derde plek.
