Die polisie se 10111-noodlynsentrum het versuim om ‘n gestremde man te help nadat sy vrou in hul huis in Durban vermoor is.
Edda Botha is vroeg Saterdagoggend in haar huis in Athlone Park doodgeslaan, berig die Sunday Tribune.
Die egpaar se bure het toe reageer op oproepe van Botha se man.
Richard Allkins van die Amanzimtoti-misdaadvoorkomingsorganisasie het gesê daar was ‘n argument, omdat die operateur nie iemand wou uitstuur sonder dat hulle die presiese besonderhede oor die slagoffer en haar beserings weet nie.
“Ons het uiteindelik ‘n polisievoertuig, wat op roetine-patrollie was, voorgekeer. Hulle kon nie glo dat hulle nie onmiddellik na die toneel gestuur is nie.”
Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het ‘n beroep gedoen op “diegene wat die bewerings maak” om na vore te tree, sodat ‘n ondersoek gedoen kan word. – Sapa
