AgriSA loof landbouminister

Tina Joemat-Pettersson, nuwe minister van landbou, bosbou en visserye, se toespraak het gister 'n positiewe reaksie van Agri SA uitgelok. Johannes Möller, president van Agri SA, het gesê dit is nie dikwels dat hy "sprakeloos" gelaat word nie.

Hy het die organisasie se steun aan die minister belowe.

Die minister het belowe om weer beleggings in landbounavorsing, spoorvervoer en bio-brandstof te oorweeg. Ook Suid-Afrika se landbouhandelsroetes sal hersien word.

Sake 24 berig dat Joemat-Pettersson erken het dat sy ’n “bewustelose” departement geërf het en dat die regering se omgang met boere burokrasie en rassekwessies vooropstel.

Sy het gesê talle ANC-politici is steeds kwaad vir wit boere.

Een van haar groot take is om die denkwyse van die regering op nasionale en provinsiale vlak rakende landbou, en veral ten opsigte van kommersiële boere, te verander, sê sy.

Die landboubedryf het die potensiaal om méér werk te skep as die mynboubedryf, indien ongelyke handelspraktyke aandag geniet.

Die biobrandstofbedryf is só 'n bedryf wat ’n enorme hoeveelheid werk kan skep. Sy het gesê die staat het die verantwoordelikheid om volhoubare werk te skep

Sy sê sy is ook bekommerd dat daar oor die afgelope 15 jaar ’n groot agterstand in die bedryf se opleiding en navorsing ontstaan het asook in spoorvervoer.

Die regering is voorts bekommerd oor hoë voedselpryse, maar Joemat-Pettersson het beklemtoon dat boere nie die skuldiges is nie.

Sy sê haar mandaat is om te verseker dat Suid-Afrika weer ’n netto uitvoerder van voedsel word.

posts onФильчаков прокурор отзывы