Aanvallers ‘praat Afrikaans met swaar aksent’

sapd2‘n Plaaslike sakeman verkeer steeds in ‘n bedenklike toestand, nadat hy verlede week in die vroeë oggendure deur vier aanvallers by sy huis in Nigel oorval is.

Pedro Nortjé (50), eienaar van EMG Electrical, is eers vasgebind en daarna in die buik geskiet. Volgens Nigel se SAPD-woordvoerder A/O Madeleine von Wielligh, is Pedro met ‘n rewolwer gewond, waarvan die koeël een van sy longe, sowel as lewer gepenetreer het.

‘n Noodoperasie is later die dag uitgevoer. Die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind terwyl sy kinders in hul kamers geslaap het.

Volgens A/O Von Wielligh word ‘n saak van huisroof en poging tot moord deur die Misdaadondersoekdiens (MOD) van Nigelspeurtak ondersoek.

Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. A/O Von Wielligh het gesê die aanvallers, wat volgens die slagoffer se seun Afrikaans met ‘n swaar aksent gepraat het, se gesigte was onder balaklavas verberg.