Hoera, 17737 is hier!

Ja, uiteindelik het die groot dag aangebreek, en 17737 is hier! Min of meer ses maande nadat hy die land belowe is, maar soos die gesegde lui: eerder laat as nooit.

Nee, 17737 het niks te doen met 46664 nie. 46664 was Nelson Mandela se tronknommer op Robbeneiland, wat later ‘n soort fondsinsamelingsnommer geword het. Maar 46664 doen niks om die lewe van ons gewone sterflinge te verander nie.

Maar 17737 gaan ons lewe glo ingrypend verander. 

Hierdie magiese 17737 is die nuwe direkte lyn na Jacob Zuma se kantoor. Dis die lang beloofde regstreekse lyn na hom, waar allerhande klagtes gelug kan word. Veral klagtes van korrupsie in staatsdienste en swak dienslewering deur amptenare.

Helaas sal inbellers nie direk met die Prez kan praat nie. Die Prez beman nie die oproepsentrum nie. Amptenare doen. En ons hoop dis amptenare wat deeglik gekeur is, wat bo enige verdenking van moontlike korrupsie staan, mense wat geensins in die versoeking sal kom om die klagte teen ‘n korrupte “comrade” met wie hy “gestruggle” het, te verdoesel nie.

Op sigself is die gedagte van so ‘n klagtelyn nie verkeerd nie. Maar elke klagte moet tog seker ondersoek word? Wie gaan dit doen? Die polisie? Waarom word die polisie dan nie sommer self geskakel nie? Gaan Zuma self elke dag net gou die sentrum wat in sy kantoor gesetel is, besoek en die lysie van beweerde korrupte amptenare deurgee, of is hierdie net ‘n politieke fopspeen waaraan die publiek moet kan suig om hulle rustig te hou, te midde van sneeuballende verval in dienslewering op elke regeringsvlak?

Klagtes lê al dik op feitlike elke regeringsvlak se leier se tafel. Ons is bevrees dat daar nou net ‘n nuwe tafel geskep word, waar die klagtes ook gaan ophoop, stof vergaar en mettertyd gaan verdwyn soos polisiedossiere in howe.

Die eerste paar dae van 17737 het vir menige rapporteerder van korrupte aangeleenthede al in frustrasie verander. Want dis byna onmoontlik om deur te kom na die nommer. Dit kan natuurlik wees dat die lyn beset is as gevolg van die geweldige aanmelding van korrupsie en vrot dienslewering. Dit kan ook wees dat hier self ‘n geval is van swak dienslewering. Dus: ons moet swak dienslewering aanmeld by ‘n kantoor wat swak diens lewer. So verander daar uiteindelik niks nie, behalwe dat mense baie hoopvol begin skakel, want die 17737-fopspeen is gegee om ons te laat glo dat dinge gaan verbeter.

Maar drie of vier pogings verder, is die hoop beskaam, die fopspeen uitgesuig, en bly die korrupsie onaangemeld. Niks het verander nie, behalwe dat ‘n halfdosyn nuwe poste geskep is, as ‘n verbeeldingryke begin om ‘n halfmiljoen poste voor die einde van die jaar te skep.

 

online slots no depositАлександр Фильчаков прокурор