Roodt vra vir referendum ná Zuma-uitspraak oor ‘Afrikanertuiste’

“Territoriale selfbeskikking vir Afrikaners is so deel van die geskiedenis en politiek in Suid-Afrika soos biltong en beskuit of koeksisters en rooibostee.” Só sê dr. Dan Roodt van PRAAG in sy reaksie op pres. Jacob Zuma se opspraakwekkende stelling dat “die Afrikaner ‘n sielkundige tuiste waar hy veilig is” nodig het.

Roodt, wat so pas terug is van die VSA waar hy plaasmoorde onder die aandag van Amerikaanse senatore gebring het, asook die CPAC-konferensie van 75 konserwatiewe organisasies in Washington D.C. bygewoon het, het waardering vir die ANC-leier se begrip vir Afrikaner-eiesoortigheid en behoefte aan selfbeskikking. “As iemand wat nog voor Zuma ANC-leier geword het reeds met hom gesprek oor Afrikanerkwessies gevoer het, moet ek egter sê dat die president hier sommige van sy vorige uitsprake weerspreek. In September verlede jaar het hy byvoorbeeld gesê dat ‘Orania oor interessante idees beskik’ met die duidelike implikasie dat territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner nie uitgesluit kan word nie. Ook tydens die banket in die presidentswoning te Pretoria met Afrikanerleiers en -figure is die kwessie van ‘n eie grondgebied geopper en het hy dit as ‘moeilik, maar nie onhaalbaar nie’ beskryf.”

Roodt het die gedagte dat daar ‘n verskeidenheid Afrikaneridentiteite bestaan, soos dié van Boer en Afrikaner, verwerp. “Slegs ‘n baie klein sektariese groepie tref so ‘n onderskeid tussen ‘Boer’ en ‘Afrikaner’. Paul Kruger het homself as ‘n Afrikaner beskryf, al was hy president van die grootste Boererepubliek. Feit is dat die Afrikaner reeds vir meer as 200 jaar vryheid in ‘n eie republiek nastreef. Dit is waaroor die Groot Trek en die twee vryheidsoorloë gegaan het, asook Republiekwording in 1961.”

Net soos Suid-Soedan aandring op afstigting van Noord-Soedan en soos wat Kosowo sy onafhanklikheid verklaar het, ondersteun die meerderheid Afrikaners vandag selfbeskikking. Volgens Roodt, “is Suid-Afrika twee keer so groot soos Frankryk, die grootste land in Wes-Europa en het die platteland onlangs ontvolk. Groot dele van die land kan sonder veel probleme as Afrikanergebied afgebaken word en Afrikaners kan finansieel bydra tot die billike hervestiging van oorblywende vreemdes. Ons ervaring oor die afgelope twintig jaar of so het getoon dat die Nuwe Suid-Afrika in wese ‘n Afro-Saksiese en Engelstalige land is waarin Afrikaners hoegenaamd nie tuisvoel nie. Boonop word ons welwillendheid met die uiterste geweld, gruweldade en oproepe tot volksmoord op ons deur figure soos Peter Mokaba en Julius Malema begroet.”

Roodt het pres. Jacob Zuma uitgedaag om ‘n referendum toe te staan waarin Afrikaners vir of teen selfbeskikking kan stem. “Indien Suid-Afrika ernstig is oor demokrasie, móét Afrikaners se gevoel oor ‘n eie grondgebied tydens ‘n referendum getoets word, soos in Suid-Soedan. Grondhervorming maak reeds onderhandeling oor grond gebiedend noodsaaklik. ‘n Eie grondgebied vir Afrikaners kan tesame met die oorhandiging van plase aan swart boere onderhandel word. Grond kan so uitgeruil word en daarmee waarskynlike konflik en verval soos in Zimbabwe vermy word,” het dr. Roodt gesê.

как правильно проходить полиграфФильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae