Met plaasmoord 1 647, het die ANC so ver vasgestel kan word, vir die eerste keer dadelik ‘n verklaring uitgereik waarin die moord veroordeel word.
Terwyl daar van die regering se kant nog slegs periodieke veroordelings kom, en dan dikwels voor die regte gehore, is hierdie verklaring uitgereik soos wat baie van die opposisiepartye doen – om dadelik op ‘n plaasmoord te reageer en dit te veroordeel.
Om ‘n plaasmoord te veroordeel, verseker bykans vir ‘n politieke party mediadekking, en mediadekking is die lewensbloed van ‘n party.
Dit beteken nie dié partye veroordeel plaasmoorde ter wille van publisiteit nie – baie van hul leiers het reeds familie aan plaasmoorde afgestaan, of het familie en vriende wat enige dag die volgende slagoffer kan wees, en doen werklik baie moeite om die probleem behoorlik na te vors, om deurlopend oproepe op die regering te doen om landelike veiligheid op te skerp, en veral om te probeer verseker dat die regering konsekwent die boodskap duidelik maak – die land se landbouers is nie misdadigers se vrybuit nie.
Dit is nodig, want dit is nie die boodskap wat die aandrang om die liedjies te kan sing waarin mense aangehits word om boere dood te maak, uitstuur nie. Ministers se losbekkigheid oor plaastoestande dra ook nie die boodskap uit nie.
Om nou soos die agteros ook in die kraal te kom, sal noodwendig vrae laat ontstaan. Hoekom juis nou?
– Is dit omdat daar binnekort weer stembus toe gegaan word en die ANC nie veel meer as slaggate en foutiewe munisipale rekenings het om aan kiesers te bied nie?
– Moet daar nie nou skadebeheer toegepas word na pres. Zuma weer sy voet in godsdienskwessies gaan sit het en Christene oor ‘n wye front aanstoot gegee het nie?
– Het dit dalk iets daarmee te make dat die slagoffer die oom van die adjunkhoof van Solidariteit is, ‘n vakbond wat internasionale aansien geniet en wat ook oor die vermoë beskik om sake vir die regering witwarm te maak?
– Wil hy nou die opposisiepartye se donderweer in die media in die veroordeling van plaasmoorde steel? Voorlopig lyk dit of die ANC baie goed daarin geslaag het.
Die ANC vorm egter ook die kern van die regering – en die regering kan in die praktyk veel meer as opposisiepartye doen om die euwel hok te slaan. En uit daardie oord duur die algemene swye maar nog te gemaklik voort.
