Die party het met die VF Plus se leier in Pretoria, mnr. Philip van Staden aan die stuur, “skadu-raadslede” in alle wyke in die Tshwane-metroraadsgebied aangewys.
Die VF Plus in Pretoria gaan tydens die verkiesing fokus op gebiede waar daar ‘n beduidende teenwoordigheid van die Afrikanergemeenskap is, maar die party gaan ook sy vlerke sprei om alle kiesers wat die party se kernwaardes steun te verwelkom. Hierdie kernwaardes sluit in groepsregte, Christen-demokratiese waardes, maksimale afwenteling van mag en die bemagtiging van plaaslike gemeenskappe (ten einde meer sê te hê oor die aanwending van hulle belastinggeld).
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid en ondervoorsitter van die party se Groter Pretoria-streek, bestaan daar ‘n beduidende kans dat die ANC in die Tshwane-metroraad minder as 50% in die verkiesing sal behaal.
Dit sal die VF Plus in staat stel om die magsbalans te vorm en om te help om die stad se munisipale regering saam te stel, byvoorbeeld ‘n breë koalisie van opposisiepartye. “Indien die VF Plus die magsbalans vorm sal ons koalisievennote kies wat ons kiesers se belange die beste sal dien. Ons sal so ‘n koalisieregering ‘n billike kans gee om sy mandaat uit te voer, maar as hy dit nie doen nie sal ons dit tot ‘n val bring en ‘n nuwe stadsregering help aanwys,” het Beyers gesê.
Volgens Beyers sal die VF Plus slegs deel van ‘n koalisie vorm wat bereid is om die party se kernwaardes te akkommodeer.
Die party het verder gesê dat ‘n stem vir die VF Plus ‘n wyse kan wees waarop kiesers werklike protes teen die status quo in die metroraad kan aandui. Al wat ‘n stem vir ander partye sal beteken is “meer van dieselfde”.
