Kommer oor korrupsie was een van die grootste oorsake dat buitelandse beleggers in Januarie vanjaar sowat $1,4 miljard se aandele in die Indiese aandelemark verkwansel het.
Onder die groot skokke was die arrestasie en aanklagte van korrupsie teen die voormalige minister van Telekommunikasiewese, Andimuthu Raja. Die korrupsie-skokke word nie net vanuit die staat en politiek aangevuur nie, maar ook die weermag, die media en die sakesektor.
‘n Peiling toon aan dat Indiërs nou korrupsie as die land se grootste probleem ervaar. Dit kom te midde van skerp prysstygings wanneer Indiërs gewoonlik inflasie die nommer een sondebok maak. Die faktore dra daartoe by dat beleggersvertroue in Indië aan die ratel is, aldus die Christian Science monitor.
Nog ‘n opname toon dat berigte in die Indiese media oor korrupsie in die laaste kwartaal van 2010 skerp gestyg het. Dit is nou dubbel so veel soos tydens ‘n vorige skandaal.
Indië is ook besig om op die persvryheidsindeks te tuimel, en beklee nou die 122ste posisie op Verslaggewers se persvryheidsindeks. Verlede jaar was Indië 105de, ‘n aanduiding van hoe daar ‘n ooreenkoms is tussen lande se beleggersvertroueindeks, die korrupsiepersepsieindeks en die persvryheidsindeks.
