‘n Groep jong Marokkane het Donderdag die land se inwoners opgeroep om op 20 Februarie die strate in te vaar om demokratiese hervormings en die bedanking van die regering te eis. Die groep wat op Facebook is, het na bewering 3 400 aanhangers.
Die groep beywer hom vir die “waardigheid van die Marokkaanse volk”. Leiers in die Arabiese wêreld kyk met kommer na die onrus wat in die streek versprei, ná die val van die Tunisiese president Ben Ali verlede maand. Die bevolkings elders in Arabiese lande soos Egipte, Jemen, Jordanië en Algerië is ook in oproer.
In Marokko is die afgelope paar dae vier pogings tot selfverbranding geregistreer. ‘n Soortgelyke geval van selfimmolasie het gelei tot die volksopstand in Tunisië.
Die Marokkaanse regering sê in ‘n reaksie op die appèl dat die koninkryk al lank meer demokrasie en vryheid nastreef.
