Dus, met dié opvatting in gedagte laat ons begin.
Dit is net so bietjie meer as ‘n 100 jaar terug dat die Afrikaner nog sy eie handearbeid magtig was. Die Afrikaner het behoudende harmonie en ewewig in sy produktiewe kragte gehad, maar stelselmatig het die Afrikaner volksvreemde arbeid laat toeneem vanaf medearbeider tot die alleen handearbeider. Die Afrikaner het homself blindelings met hierdie verleidelike proses laat kastreer t.o.v sy welverdiende ekonomiese valensie. Daar is al ‘n verskeidenheid van redes voorgelê vir hierdie onbevoegde ekonomiese mistasting, maar vir my is daar net een klaarblyklike hoofoorsaak wat onomwonde uitstaan. Die Afrikaner in sy volkseenheid het nie eendragtig vir die Afrikaner-ambagsman as ‘n vakkundige handearbeider geveg nie; wie uitdruklik en onteenseglik as ‘n waardevolle fondament, ‘n basis of stukrag vir ons toekomstige ekonomiese volhoubaarheid in plek moes gewees het. Ek gee hierdie voorbeeld as inleiding omdat die Afrikaner, in sy huidige vryheidstryd, nie kan oorleef sonder die verbete aangryping van standhoudende en blywende beginsels nie.
Die Afrikaner word volgens my deur die ineenstorting van sy intellektuele infrastruktuur gekortwiek. Dit beteken hoegenaamd nie dat die Afrikaner dom of onnosel is nie, maar dat in elke volk daar ‘n gesonde basis bestaan waarvandaan die volk gedefinieer moet word. Indien hierdie intellektuele basis gedesimeer en verydel word, soos wat inderdaad met die Afrikaner gedurende die einde van Apartheid gebeur het, dan word patriotisme bouvallig en die volk se identiteit word deur dubbelsinnige handeling en gebrekkige selfvertroue gekenmerk. Dit sal telkens net d.m.v goeddeurdagte skeppende gedagtes en begrippe wees wat ‘n volk sy ruimte weer kan herdefinieer en konseptualiseer. Ek impliseer nie dat eendragtige vaderlandsliefde deur verkrampte sosiale ingenieurswese moet verkry word nie. Nee, die beeldspraak van ‘n kunstenaar wat vrylik sy omgewing en ervaringe kreatief op ‘n skilderdoek kan weergee is meer van toepaslik.
In lyn met die denkbeeld wil ek graag na twee verwante begrippe kyk, naamlik verpligting en regte. Egter, meer spesifiek is my fokus op die beginsel van ‘n objektiewe verpligting in teenstelling met die subjektiwiteit van regte; wat in my opinie ‘n saaklike fondament van die Afrikaner se toekomstige sinvolle opbou en uitbou is.
Teenoor wie het mense ‘n verpligting? Vir baie mense is die natuurlike antwoord op hierdie vraag: ons verpligting is teenoor ons eie medemens. Tog, wie is jou medemens en waarom sal jy enigsins ‘n verpligting teenoor jou medemens voel? In reaksie tot die vrae is ons so geneig om plotseling sonder huiwering voort te gaan na ‘n meer oppervlakkige konsepte soos persoonlike ‘regte’, om dan ‘n veel dieper en kernagtige konsep soos universele verpligting te omskryf. Dis ‘n groot fout.
Ek maak die stelling omrede verskeie Afrikaners in verwarring verkeer wanneer hulle hulself wil uitdruk rondom die verskeie aspekte van sogenaamde regte en morele verpligtinge binne die gemeenskapsverband. Die gevolg is dat ons met die wetgewende bepalings van staatsburgerlike regte die spreekwoordelike wa voor die perde stel; dit veral teenoor die individue wat nie onder die staat as ‘n burger staan nie. Ons kan eenvoudig nie oor die langtermyn individuele regte deur wetgewende gesag beskerm, sonder ‘n gemeenskap se alom erkende omskrywing en definiëring van die mens se intrinsieke waarde in sy mees basiese vorm nie.
Dit is glad nie ‘n onbegonne taak nie; inteendeel, dit is heel natuurlik en is immers presies wat as kollektiewe sosiale gedrag van die Afrikaners gedurende Apartheid voorgekom het. Ongeag die leser se eie afkeer teen, of motiverings vir Apartheid, was daar gedurende hierdie tydslyn onweerlegbare tekortkominge en onsekerheid vir Afrikaners betreffende die werklike en omvattende waarde van die mens. Dienooreenkomstig kon die justisiële gesag gedurende Apartheid net met groot kontroversiële wetgewing hierdie onverenigbare tekortkoming bestuur of behartig.
Daarvolgens, laat ons eers ons morele prioriteite in die regte orde rangskik voor ons weer enige pen tot ‘n statutêre begrip lê. In die algemeen onderskat leiers die nuwe standaarde en prosesse wat met hul presedente aksies geskep word. Dit is uiters belangrik dat ‘n gesonde gemeenskap hulle morele verpligtinge verstaan, insien en kan opneem teenoor elke mens, vir geen voorbehoude rede nie as vir net dat die mens – mens is. Dit klink oorvereenvoudig, maar dit is in hierdie basiese en elementêre sielkundige blokkies, waarmee ‘n gemeenskap meer gekompliseerde dimensies aanneem met uitvoerende- en regeringsbeleid, dat die prinsiepe en innerlike waarde van die mens so ‘n uiterste indikatiewe rol vervul.
Ek wil die leser herinner dat my doel grotendeels is om die Afrikaner te help in die poging om die debat betreffende ons vryheidstryd te wen. Hierdie debat en veldtog kan net met die dryfkrag van ‘n suiwer ideaal suksesvol voortgaan. ‘n Suiwer ideaal is die onverskrokke eerbare vlam van geregtigheid wat die Afrikaner in al sy vorige uitdagings al laat uitrys het, om vreesloos die ongetrotseerde met durf te trotseer.
Wat is die karakter van so ‘n suiwer ideaal?
Alles mensgemaak is tydelik, of jy nou in die ewigheid glo of nie, konings sterf, landsgrense skuif, wette word herskryf en kulture word stof wat wegwaai in die wind van tyd, maar die mens, as mens, bly staan. In die omvattende milieu is die mens die basiese essensie; instansies en hul manifestasies is net van tydelik aard. In lyn met die opvatting, is die mens eenvoudig ‘n hoër beginsel as dit wat hy voortbring. Jy hoef nie ‘n filosoof te wees om dit in alledaagse besluite weerspieël te sien nie. Die gesondheid van elke sosiale kring se psige word bepaal deur net te kyk hoe hulle hul naaste of medemens definieer en persepsionaliseer. Daarvolgens, laat die wie as leiers vir die Afrikaner wil staan en namens ons wil praat, hulle woorde suiwer in die kristallisering van menslike waardigheid – Dit voorafgaan die mens nog deel van ‘n idealistiese kollektief is. Vrye assosiasie is verseker belangrik en ook natuurlik, maar voordat enige wetgewende gesag en die eiesoortigheid van ‘n gemeenskap verwoord kan word, is die sosiale-fondament in die lig van ‘n suiwer ideaal nodig.
Neem kennis, ek is beslis nie teen die vrye vereenselwiging vanaf ‘n soewereine verwysingspunt nie. Dit is immers net deur die lewende kultuur en karakter van ‘n gemeenskap dat die dooies met die lewendes kan kommunikeer. Op die wyse weet ons dat legendes soos Wolraad Woltemade, Racheltjie de Beer en Koos de la Rey is net lewendig en helder in ons verbeelding solank die Afrikaner nog voortbestaan. Daarom het die regmatige burgers van ‘n soewereine staat verseker ‘n verklaarbare en begryplike reg tot beskerming vanaf die staat; met wie trouens in ‘n vrye assosiasie verkeer word. Nietemin, hierdie burgerlike reg is net volhoubaar solank daar ‘n onmiskenbare morele kompas deur ‘n gemeenskap gevleg is, met spesifieke verwysing na die bogenoemde konsepte. Die tydsgewrig van Nazi-Duitsland en die ontsettende impak wat daardie gebeurtenis op die individuele Duitser gehad het, staan as skrille herdenking vir ons om te gehoorsaam.
Ek hoop dat elke leser kan begin verstaan dat ek nie teen die billike reg van ‘n gemeenskap staan om op morele en etiese beginsels en grondslag te mag geregtelik diskrimineer teenoor die wie nie deel van hul sosiale kring is nie. Daarom is my proposisie verseker nie die aanprys van ‘n universele egalitarisme van subjektiewe regte nie. Eerder, wat ek ernstig beklemtoon en uitwys is die gevaarlike toestand wanneer daar in ‘n gemeenskap subtiele en onderliggende verwarring heers, indien daar nie die nodige samehorigheid en duidelikheid is oor hulle verpligting teenoor hul medemens nie. Duidelikheidshalwe moet elke burger twee vlakke van verantwoordelikheid teenoor sy sosiale omgewing sonder twyfel kan identifiseer en beskryf: Eerstens sy daadwerklike verpligting teenoor sy medemens en daarna die insig tot die sogenaamde ‘regte’ van elke individu in ‘n soewereine staat.
Die Afrikaner se onverbloemde heil is stewig in geregtigheid gesete. ‘n Afrikaner-geregtigheid wat in die korrekte prioritisering van verhandeling in morele insigte sy konkrete betekenis en rigting verkry. Teëstellend, sou daar algemene oorheersende onsekerheid en onenigheid onder Afrikaners heers, insake ons konseptualisties verskille met verwysing na geregtigheid. Dan in die geval, is dit ‘n direkte maatstaf van die Afrikaners se tekortkominge in sy tans verminkte intellektuele basis, om waarneembare betekenis en ‘n vaste fondasie aan die Afrikaner se morele boumateriaal te verskaf. Die wie bereid is om die Afrikaner te red en ook terselfdertyd nuut te skep, sal bo-oor al die verskeie genoemde faktore moet kan dink en die bepalende dinamiese prosesse met ‘n verbeeldingskrag kan aansien.
Moet nie die fout maak om te dink dat daar nie die individue is wat wel hewig gekant en ook vyandig gesind is teenoor dit wat ek hier voorstel nie. Daar is verskeie individue wat dronk is onder die invloed van selfheid en a.g.v die vertroebeling van eerbare beginsels alles in hul mag sal doen om onverstoord hulle onverdiende voordeel te geniet.
Dit is verskriklik belangrik dat my skrywes nie gesien word as ‘n poging om die Afrikaner te wil verander nie, of dat ek die Afrikaner onder die juk van verpligte rassevermenging wil laat onderhewig nie. Dit is in alle geval presies die teenoorgestelde as wat ek beoog en myself geesdriftig voor inspan. Ek glo dan juis vasbeslote in die die Afrikaner se vrye keuse en spontaniteit as behoudende kragte. Ek vra die leser plegtig om aandagtige na my boodskap te kyk. Ek is bewus dat baie van die gesprekke, debatte en replieke in omgang, betreffende die Afrikaner se vryheidstryd, ‘n beduidende gedeelte aan die subjektiewe kenmerke afstaan wat net kan voortvloei wanneer die Afrikaner waarlik vanuit ‘n regmatige objektiewe posies funksioneer. Met ander woorde, presies die uitdrukking wat ek vroeër genoem het: Die fout te maak om die wa voor die perde te stel. Vanaf die grondslag is die Afrikaner se oorkoepelende debat frustrerend onduidelik met gereelde kontrasterende en dubbelsinnige beredeneringe.
Byvoorbeeld, om te glo dat vrye keuse die Afrikaner onomkeerbare gaan laat verswelg deur die nie-kaukasiër; is net so goed en val dus in dieselfde rasionaliteit, dat jy glo mense arbitrêr gedwing moet word om Godsdiens te aanvaar anders sal hulle dit nooit wil doen nie. Dit is onsin! Presies die omgekeerde van die waarheid. Daarom argumenteer ek onverbiddelik dat ek nie geïnteresseerd om die Afrikaner met ander aparte ‘groepe’ te laat konsuis saamsmelt nie, maar wat ek wel wil hê is dat daar nie bevooroordeelde rasgebaseerde uitsluitings, soos ‘n veredelende wig die Afrikanervolk polariseer nie. Ons moet ophou bang wees vir die totale Afrikaner en hom vrylik, binne die konteks van sy assosiasie, laat vergestalting aanneem in die ewewigtigheid van sy soewereine gewete.
In dieselfde asem is dit net so eiemagtig om te glo dat my voorgestelde argument ongevoelig die barbaarsheid waaraan my volksgenote blootgestel word so ongesiens aanvaar. Dit alles omrede ek eers begin by die definiëring van menslike waarde en ewenwel ons morele verpligtinge binne hierdie konteks teenoor elke medemense; is net so blatant absurd en ongegrond. Die barbare is vir my ook ongenaakbaar wreed, maar ons moet insien dat die Afrikaner in sy huidige subjektiewe volkskonteks, word deur die huidige Afrika-gesag, ongelooflik teleurstellend net as ‘n afskuwelike pariahond beskryf. Om te redekawel oor die Afrikaner se regte; vooraf die gedaante van soewereiniteit, is dus ondermynend subjektief en boonop nutteloos voorafgaande die Afrikaner nie ‘n ideologiese objektiewe posies kan bewerkstellig nie. Dit is vir ons Afrikaner-skrywers die groot meesterlike uitdaging .
Die volgende verhaal bring my punt huistoe. Gedurende die tweede-wêreldoorlog het Duitsland hulle groot kanonne op die oewers van Holland geplaas. Hierdie kanonne was sekuur gemik op hul doel – Engeland. Tog, ongeag die kanonne se ongelooflike ontwerp, krag en ander eienskappe was hulle nutteloos. Die rede is; want jy sien, Holland is geseën met vermurwe grond wat geen soliede fondament vir die kanonne gebied het nie. Dit was eers toe die fondamente sterk en diep gelê was, dat die kanonne se bestaan enige doel en betekenis verkry het.
Ek nooi nou elke leser heelhartig uit. Laat ons weer, as ‘n volk, ons prioriteite van regte en verpligting harmoniseer.
Kom ons bou doelgerig in samehang ‘n geregtigde en volhoubare ‘huis’ vir die Afrikaner. Kom ons verkry orde in die verskeie komponente wat ons Afrikaner-huis sal konstitueer. ‘n Huis wat legitiem is in alle fasette. ‘n Huis wat diep en eerbare fondamente het. ‘n Huis met ‘n onbeskaamde suiwer ideaal.
Ons wil nie die Afrikaner ondergrawe of willekeurig verander nie; dit is in ieder geval die Afrikaner wat vanuit ‘n vrye keuse in so ‘n selfgeskapene Afrikaner-tuiste moet wil bly en handel dryf. Daarom sekerlik die bekende gesegde – Jou huis is, waar jou hart is.
