Elf tronke sal van naam verander, het minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Sondag mbv koerantadvertensies aangekondig.
Die tronke is Pollsmoor, Goodwood, Barberton, Modimolle, Johannesburg, Pretoria-Sentraal, Leeuwkop, Modderbee, St. Albans, Kroonstad en die nuwe Kimberley-tronk.
Sonwabo Mbananga, woordvoerder, sê die departement is verbind tot transformasie op ‘n “sielkundige vlak”.
Apartheidstryders se name sal op die tronke pryk. “Van die tronke sal genoem word na helde en heldinne van die apartheidstryd. Ons wil wegbeweeg van die simboliek wat aan sommige van die tronke kleef.”
“Die koste van die projek is nog nie bekend nie, ons sal nog die uitgawes aan belastingbetalers verklaar.”
Voorstelle kan voor of op 4 Februarie aan Zach Modise by CDC Corrections, Privaatsak X136, Pretoria 0001 gerig word, of stuur e-pos na submit@dcs.gov.za.
