Die VF Plus is steeds van mening dat dit nie net in die publiek se belang is nie, maar ook die van leerlinge is, dat besonderhede oor die vakaanpassings wat vir 2010 se matriekleerlinge gemaak is bekend gestel moet word. Individuele leerlinge sal nie benadeel kan word deur die bekendmaking van daardie inligting nie, omdat die inligting wat die party aangevra het ‘n aanduiding van nasionale en streekstendense sal gee en nie inligting oor die prestasie van individuele leerlinge nie.
Die VF Plus het daarom in sy aansoek aan Umalusi in terme van die Wet op die Bevordering van die Toegang tot Inligting versoek dat inligting oor die grondslag vir die aanpassing, die spesifieke vakke waarin ‘n aanpassing gemaak is asook met watter persentasie die aanpassing gemaak is, bekendgemaak moet word. Die VF Plus het voorts ook versoek dat inligting oor streeksuitslae bekendgemaak moet word aangesien vakaanpassings net in sekere streke gedoen is. Hierdie stap dui op moontlike diskriminasie.
“Die VF Plus wil egter vasstel of Umalusi ‘n regverdige benadering gevolg het. In gevalle waar vraestelle vanuit Engels na Afrikaans vertaal is, was die vertalings so swak dat dit leerlinge verwar het. Ons wil weet of Umalusi die feite in ag geneem het tydens die besluit om vakverstellings te maak. Indien dit nie gedoen is nie, kan die optrede van Umalusi op ‘n stilswyende beleid van diskriminasie dui,” het adv. Alberts bygevoeg.
Die VF Plus sal daarom druk op Umalusi aanhou uitoefen om te verseker dat Umalusi aan die eise van die publiek vir groter deursigtigheid, gehoor gee.
