“Die gedagte dat Tzipi Livni ‘n oorlogsmisdadiger sou wees en hier in hegtenis geneem moet word, is eenvoudig belaglik. Veel eerder behoort daar gekyk te word na die werklike oorlogsmisdade en gruweldade wat daar tans in ons land plaasvind, in die vorm van plaasmoorde en die aanhitsing van volksmoord deur ampsdraers van die regerende party soos Julius Malema.”
Volgens Roodt is “Israel ‘n demokratiese land waarvan die verbintenis tot demokrasie en menseregte nog nooit onder verdenking was nie. Israelse burgerlikes word egter deur radikale Palestynse groepe geteiken met selfmoordbomaanvalle en vuurpyle, wat die owerheid in ‘n onhoudbare posisie plaas, want hy moet sy burgers teen aanvalle beskerm terwyl die internasionale media van die Palestyne martelaars gemaak het. In enige konflik is daar egter altyd twee of meer kante. Dit is onvanpas van plaaslike groepe en veral die Valke en Nasionale Vervolgingsgesag om ‘n besoeker en ‘n gas in ons land selfs net met vervolging te dreig.”
PRAAG wil die publiek maan om meer ingelig oor die konflik in die Midde-Ooste te raak sodat blatante propaganda en manipulasie soos wat daar tans rondom Livni se besoek gepleeg word, aan die kaak gestel kan word. “Israel was nog altyd ‘n vriend van Suid-Afrika, totdat die ANC besluit het om eerder met ekstremistiese bewinde soos dié van Kuba en Libië of radikale Moslem-terroriste te assosieer. Nie net verteenwoordig die huidige dreigemente teen Tzipi Livni ‘n morele laagtepunt in ons land se geskiedenis nie, maar ook ‘n laagtepunt in diplomasie en goeie maniere. Gegewe die menseregteskendings en die reg op lewe wat daagliks in ons land verkrag word, het ons geen lesse aan Israel te leer nie.”
