Oor ses jaar weer lewende mammoete?
Dit is moontlik as Japanse wetenskaplikes slaag met hul planne.
ANP berig dié wetenskaplikes het daarin geslaag om selweefsel uit ‘n mammoetkarkas te onttrek wat in ‘n Russiese laboratorium bewaar word. Hulle hoop om hiermee die selkern van ‘n olifant-eiersel te vervang, en die herstelde embrio in die baarmoeder van ‘n olifantwyfie in te plant.
As alles volgens plan verloop sal die wêreld duisende jare na die mammoet uitgesterf het, weer ‘n lewende mammoet kan besigtig.
Die meeste mammotespesies het ongeveer 10 000 jaar gelede uitgesterf, maar oorlewendes van die wollerige mammoet-spesie het tot ongeveer 8 000 jaar gelede in Noord-Amerika oorleef, en ‘n rukkie later ook in Siberië uitgesterf.
‘n Klein kolonie mammoete het tot sowat 3 750 vC op St Paulseiland naby Alaska oorleef, en ‘n kolonie het tot sowat 1 650 vC op die Siberiese eiland, Wrangel-eiland oorleef.
Hoewel klimaatstoestande vermoedelik grootliks vir die verdwyning van mammoete verantwoordelik was, word die rol van die mens nie buite rekening gelaat nie. Dit is bekend dat die oermens, Homo erectus, al 1,8 miljoen jaar gelede mammoetvleis verorber het.
Bronne: Trouw (ANP) en Wilipedia
