Ek nie sthnotkop ith

“Ek nie snthotkop ith!”

Dit was die ongelukkige reaksie van ‘n klein seuntjie kort na sy pa speels sy hand oor die kind se borselkop gestreel en hom so genoem het.

Pas was daar ‘n vlaag rubrieke deur groot koerante se gereëlde rubriekskrywers waarin hulle hul ongelukkigheid te kenne gee met die tipe kommentaar wat hul rubrieke op die internet-kommentaargeriewe trek.

Dit word uiteraard nie so aangebied nie – dit kom in die konteks van die verwysing na die Amerikaanse bloedbad waarin ‘n Amerikaanse kongreslid in die kop geskiet en nege ander mense doodgeskiet is.

Aan die hart van die probleem is ‘n argument dat ekstreme stellings geestelike onstabiele mense daartoe kan oorreed om tot uiterstes te gaan. Een rubriekskrywer het selfs in hierdie verband na die moord op Chris Hani, eertydse kommunistiese leier verwys, en as nagereg gemeen dit het die land op die randjie van ‘n bloedbad laat huiwer.

Die tipe uitlatings wat die skuld kry het in verskeie tale, ook in Afrikaans, ‘n naam: vitrioel.

Die wyse waarop rubriekskrywers reageer laat blyk dat die kritiek hulle tog raak. Die harde woorde maak tog seer, anders as die indruk wat geskep word dat hulle immuun teen dié soort vitrioel is.

Dit plaas egter ‘n tweede aspek op die tafel, en dit is hoe ook rubriekskrywers met woorde behoort om te gaan. Die eerste les van doeltreffende oorredingskommunikasie is immers dat die kommunikator sy woorde so moet kies dat die teiken nie moet agterkom daar word probeer om hul sienswyses te verander nie. Kom die teiken agter daar word probeer om met sy kop te smokkel, sal hy hom immers daarteen verset – en ook ‘n verskeidenheid emosies daaroor oorhou. Vir die oorredingskommunikator geld die ou reël immers: “Met die hoed in die hand kom mens deur die ganse land.” Fatsoenlik, dus.

Sommige rubriekskrywers spesialiseer egter daarin om die aandag deur omstredenheid te boei. Die skrywersnaam, Karen Blikzem” in Engelstalige publikasies verklap immers reeds daar is geen bedoeling om die sagte woord te spreek nie. Selfs binne die genres van paradoks, kwastigheid, gekskeerdery en vele meer is daar ‘n fyn balans tussen fatsoenlik en afstootlik.

Om te argumenteer dat die teiken waarna geskiet word eintlik die politici in die openbare domein is, gaan net op as dit duidelik blyk. ‘n Openbare figuur wat korrup is, ‘n misdaad gepleeg het of selfs net onbekwaam is moet verwag dat sy naam in onvleiende opskrifte sal pryk.

In ‘n heterogene land soos Suid-Afrika is dit bykans onvermydelik dat dit wat vir een gehoor bedoel is, ‘n ander sal aanstoot gee. Koerante se kliënte, die lesers, is immers ook nie polities of religieus homogeen nie.

Rubriekskrywers wat in rubriek na rubriek ‘n deel van die leserskorps deur woordkeuses aanstoot gee, moet verwag om weerlig te trek, veral as hy duidelik sy eie politieke oortuigings as meerderwaardig teenoor dit wat ander aanhang, stel. Uiteindelik moet hy verwag dat die weerlig hom ook gaan raakslaan, want anders as wat hy miskien glo, is almal wat anders as hy dink se IK nie noodwendig laer as syne nie.

Om die hand aan die pen te slaan met dit waarvan die hart oorloop is maklik. Om politieke opponente in ‘n monoloog met die teerkwas by te dam is net so maklik. Dit is egter ‘n ander saak as die koeëls van diegene in die visier om jou eie ore begin fluit. Om dan vir fatsoenlikheid te pleit is bietjie laat.

Die voorval in die VSA moet almal wat hulle op die een of ander wyse met oorredingskommunikasie besig hou, tot nadenke stem. Redakteurs moet besin oor die aanwendbaarheid van rubriekskrywers wat week na week Maximaal aanstoot gee, al stem hulle met die menings saam. Daar is immers maniere om ‘n ding te stel sonder om die polarisasie te laat oorkook.

справка 082улобановский александр отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae