Dit sal interessant wees om te sien hoe goed Amerikaners werklik hul grondwet ken.
Die VSA is in baie opsigte die toonaangewer met die begrip grondwetlike demokrasie. Baie lande het uit die grondwet geput om hul eie te skryf, waaronder die ou Vrystaatse Republiek.Oor die jare is talle wysigings aangebring, waarvan sommige “Ammendments” soos dit bekend staan, veel bekender is as die basisdokument.
Die dokument is ook nie oral klokhelder geskryf nie, en enkele jare gelede was daar selfs ‘n debat oor of afgelei kan word dat dit God as hoogste gesag erken.
Uit die howe, en die federale hof se toepassing het daar ook afleidings gekom wat nie noodwendig deur ander lande nagevolg word nie. Die beginsel van “reg op lewe” word elders ter wêreld dikwels vertolk as ‘n verbod op die doodstraf, maar ironies nie op aborsies op aanvraag nie.
In die VSA pas verskeie deelstate die doodstraf egter steeds toe, en sommiges het dit selfs heringestel, en dit is duidelik dat die beginsel van “reg oplewe” anders vertolk word.
Trouens, kort voor pres. Barack Obama se verkiesing tot president was daar ‘n groot moontlikheid dat die Federale Hof die beslissing van Roe versus Wade tersyde sou stel, en dat aborsies op aanvraag gestuit sou word.Verskeie deelstate het selfs reeds die wetgewing op hul wetboeke begin plaas in antisipasie hiervan. Met Obama se verkiesing het die Christian Coalition of America verklaar is die stryd teen aborsies op aanvraag met dekades teruggesit.
‘n Opname onder die Suid-Afrikaanse kiesers oor die grondwet sal stellig ‘n druipsyfer oplewer wat die matriek-druipsyfer na ‘n skitterprestasie sal laat lyk.
Die onkunde is ook nie net op voetsoolvlak nie, geoordeel aan die talle kere wat die regering in die Grondwethof bloedneus kry.
