Vergeet FW, dis Pik!

Loshande is Pik Botha die beste kandidaat vir die verraaierbenoeming.

Die gronde hiervoor is eintlik lank want dit kom reeds uit die vroeë 70s kort nadat hy as LV verkies is, maar kan hoofsaaklik op die volgende vyf gronde/tydperke beredeneer word:

1. Sy tydperk as ambassadeur by die VN en ook na die VSA toe hy baie nou met mense soos Chester Crocker, die Council for Foreign Relations en verwante organisasies en mense soos Samuel P Huntington begin saamwerk en beplan het om radikale veranderings in Suid-Afrika se beleidsrigtings te weeg te bring. Dit was in hierdie tyd dat hy ontmoetings vir John Vorster gereël het met Henry Kissinger en later Walter Mondale, Jimmy Carter se adjunk. Vorster was so in sy noppies met hierdie gesprekke wat hom oornag ‘n wêreldfiguur gemaak het, dat hy Pik kort daarna as Minister van Buitelandse Sake aangestel het en toe, volgens sekere bronne, vir Pik bo Connie Mulder as sy “kroonprins” beskou het.

2. Kort hierna het lekasies aan die media oor geheime projekte van Mulder se Departement van Inligting met Eschel Rhoodie aan die voorpunt, die lig begin sien. Dit het vinnig gelei tot die sogenaamde Inligtingskandaal, die stelselmatige eliminasie van Mulder as volgende Eerste Minister en die bedanking van Vorster uit die pos. Pik Botha se presiese rol in hierdie lekasies is nooit onthul nie, maar dit lei geen twyfel dat hy en sy departement wat vir Rhoodie en Inligting gehaat het omdat hulle dinge gedoen gekry het, agter baie van die lekasies gesit het nie.

3. Enkele dae voor die verkiesing vir ‘n nuwe premier het Pik Botha en ene Rit van Rooyen glo met “skokkende” inligting vir PW Botha gaan sien. Albei Botha’s was kandidate in die premiersverkiesing, maar daar is ooreengekom dat Pik sy stemme na PW sal oordra na die eerste rondte. Onder die stories wat toe by LVs uitgekom het was een dat Mulder miljoene rande in ‘n geheime buitelandse bankrekening het. Mulder is dan ook deur PW verslaan met behulp van Pik se stemme. Geen haan het ooit weer gekraai oor die geheime miljoene nie! Eschel Rhoodie was uiteindelik die enigste aangeklaagde oor die Inligtingskandaal en hy is skotvry gespreek en heelwat geld deur die staat in vergoeding betaal! Die skandaal van die Inlitingskandaal was dat dit liederlik misbruik is om die “konserwatiewe” Mulder uit te werk.

4. Met Mulder en sy verligte politieke denkers soos Nic Rhoodie uit die pad, kon PW met Pik en sy Amerikaanse vriende se ywerige hulp begin met die sogenaamde nuwe bedeling en ‘n nuwe grondwet wat onafwendbaar uitgeloop het op die vrylating van Mandela, wettiging van die ANC en uiteindelike swartmeerderheidsregering.

Nog voordat dit gebeur het, was Pik die hoofdrywer om Suid-Afrika se steun vir Rhodesië en Ian Smith te beëindig en die 435-verkiesings in Suidwes te laat plaasvind. Pik het deurgaans met die boodskap geloop dat gematigde swartes in Rhodesië en die DTA in Suidwes die verkiesings gaan wen. Die kwessie is nie of hy maar net verkeerd was nie, maar of hy willens en wetens met sulke valse drogbeelde te koop geloop het. Die 435-verkiesings in Suidwes is wyd gesien as ‘n voorloper vir ‘n soortgelyke skikking in Suid-Afrika.

5. In hierdie tyd het Pik voortdurend die mat onder PW se voete uitgepluk met die skep van verwagtinge oor ingrypende hervormings waarvoor die arme PW in sy emosioneelgelaaide onkunde nie kans gesien het nie. Met PW se beroerte aanval, was Pik die gunsteling om as staatspresident oor te neem maar is verstommend genoeg deur die “verkrampte” FW geklop. Maar Pik het eintlik die stryd gewen want FW was in ’n politieke hoek geverf om met die ANC te onderhandel en het toe, tot die verstomming van baie, van Pik se voorste luitenante as onderhandelaars aangestel. Die uiteinde was voorspelbaar en ons betaal steeds die prys vir hierdie verraad.

PW, FW, Roelf en andere het weliswaar belangrike rolle in hierdie verloop van sake gespeel, maar hulle was deurentyd feitlik net pionne met Pik wat op die skuiwe besluit het.

Pik verdien hierdie kroon.

uslugi-poligrafФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae