Sewe sokkergeesdriftiges is doodgetrap tydens ‘n stormloop by ‘n sokkerwedstryd tussen twee van Kenia se mees gewilde spanne.
‘n Skare het probeer om by die Nyayo Nasionale Stadion in te kom.
Ses mense is op die toneel oorlede terwyl ‘n sewende persoon later in die Kenyattahospitaal dood is, het Titus Mungo’u, ‘n woordvoerder vir die Rooikruis, gesê.
Ten minste vier ander mense is tydens die voorval beseer, alhoewel die aantal moontlik hoër is.
Die wedstryd is halfpad deur die eerste helfte gestaak toe iemand op die veld uitgehardloop het en gesê het daar is mense buite wat besig is om doodgetrap te word.
Die wedstryd is binne tien minute egter weer hervat en Gor Mahia het 1-0 gewen.
