Die Vryheidsfront Plus het met skok gereageer op die verslag van die ouditeur-generaal aan die Parlement dat drie onderwysdepartemente nie kon verduidelik hoe R44 miljard deur hulle aangewend is nie. Dit sluit die onderwysdepartemente van die Oos-Kaap en Limpopo in wat die afgelope paar jaar die swakste matrikulasie-uitslae in die land gehad het. Slegs die Wes-Kaap Gauteng en KwaZulu-Natal het ‘n skoon ouditverslag gekry, terwyl die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes uitgesonder is as die swakste bestuurders van die geld wat hulle ontvang het.
Volgens die ouditeur-generaal se verslag kon die onderwysdepartement van die Oos-Kaap nie rekenskap gee van die besteding van R1,5 miljard van die sowat R20 miljard wat aan die departement toegeken is nie, terwyl die onderwysdepartement van Limpopo nie kan verduidelik hoe R1,45 miljard aangewend is nie.
“Hierdie grootskaalse vermorsing van die belastingbetaler se geld dra nie by tot die verbetering van onderwys in hierdie provinsies nie. Die Vryheidsfront Plus dring daarop aan dat die minister van Basiese Onderrig en die betrokke LUR’s die aangeleentheid ondersoek. Die minister behoort meganismes in plek te stel wat sal verseker dat geld aangewend word waar dit die nodigste is en soos daarvoor begroot is om so te verseker dat vermorsing van staatsfondse beperk sal word,” het dr. Snyman-van Deventer, VF Plus-hoofwoordvoerder oor Onderwys, gesê in reaksie op die ouditverslae van die ouditeur-generaal.
“Persone wat verantwoordelik vir die wanbestuur is moet geïdentifiseer word en dissiplinêre stappe moet teen hulle geneem word. Daar moet ook verseker word dat staatsfondse deur provinsiale onderwysdepartemente gebruik word om onderwys in hul provinsies te verbeter. Indien die wanbesteding en verlies van staatsfondse voortduur behoort die LUR en die direkteur-generaal van Onderwys in hierdie drie provinsies aanspreeklik gehou word,” meen dr. Snyman-van Deventer.
