“Onsekerheid oor grondhervorming en die huidige Suid-Afrikaanse debatte oor nasionalisering, help nie om Suid-Afrika meer mededingend teenoor hierdie Afrikastate te maak nie. Kom ons leer uit die foute wat ander Afrikalande na Uhuru gemaak het en herhaal dit nie,” het Mulder bygevoeg.
Dr. Mulder het daarop gewys dat een van die groot landbouprobleme waarom Afrika nie op gelyke vlak met ander kontinente kan kompeteer nie, fragmentasie is. Ongeveer 85% van alle landbou in Afrika vind plaas op plase kleiner as twee hektaar. Sonder samewerkingsplanne kan hierdie landbouers nooit die voordele wat ekonomie van skaal inhou, kry nie.
“In die Verenigde State van Amerika is daar slegs 4% plase kleiner as twee hektaar en in Brasilië, wat ook ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is, 11%. As die Groenskrif oor grondhervorming die hoeveelheid grond wat ‘n boer mag besit wil beperk, kan die voordele wat die ekonomie van skaal inhou, verloor word en het ons geen lesse uit Afrika se mislukkings geleer nie,” volgens Mulder.
Die graanprodusent van die jaar toekennings is daarop gemik om erkenning te gee aan kommersiële en opkomende produsente wat onder verskillende omstandighede daarin geslaag het om uiters doeltreffend en op ‘n volhoubare basis graan te produseer.
