Goeie ou dae?

Bloot toevallig – op dieselfde SABC-nuusbulletin – breek twee uitgesproke rewolusionêre by twee verskillende geleenthede so ietwat van ‘n lansie vir apartheid.

Die eerste, ‘n SADOU-vakbondbaas, Thobile Ntola wat sê die laaste ernstige onderwysersopleiding het ten tyde van apartheid plaasgevind. In dieselfde bulletin sê Julius Malema, toe hy studente van die eertydse Medunsa toespreek, nie alles van apartheid was sleg nie. Hy het dit teen die samesmelting van Medunsa en Turfloop in die Universiteit van Limpopo.

Dit staan weliswaar steeds ligjare van die goedpraat van apartheid, en dui hoogstens op ‘n frustrasie met die ANC wat deeglik daarin geslaag het om ‘n groepie stink ryk te maak, ‘n nog groter groep in poste te plaas waarin hulle nie die mas opkom nie, maar ‘n horde sonder werk sit. Onder laasgenoemde groep is daar al lank ‘n groepie wat die apartheidsjare onthou as ‘n tyd toe hulle werk gehad het.

Malema en Ntola sal wel binne die ANC voor stok gekry word, en sal dié soort praatjies gesmoor word. Malema en Ntola stook boonop verskillende vure: Ntola is ‘n vurige aanhanger van Costau-baas Vavi, terwyl Malema onlangs nog ‘n beroep op die ANC gedoen het om Vavi te dissiplineer. Ntola het weer ‘n striemende aanval op die nasionaliste binne die ANC geloods, die tenderpreneurskap erg aangeval waarvan Malema ‘n uitstekende voorbeeld is, en ‘n sterk pleidooi vir die SAKP gelewer.

Intussen het pres. Jacob Zuma se gewildheid in metropolitaanse gebiede volgens TNS tot ‘n nuwe laagtepunt, 42 % gedaal. Net meer as ‘n jaar gelede was dit nog 58 %. Nog meer insiggewend was dat 44 % van die mense wat ondervra is, die meeste ooit, gemeen het die president is besig om gewoon te verbrou. Dié opname is weliswaar gedoen tydens die groot staatsdiensstaking, en toe Zuma Sjina met ‘n groot afvaardiging besoek het. Daardie besoek onder daardie omstandighede het ongaaf afgegaan.

Die tekens is daar dat die Suid-Afrikaanse politieke toneel danksy Zuma heel moontlik besig om die vloeibaarste in 16 jaar te word, wat in beginsel goed is vir demokrasie en die punt waar die ANC ernstig uitgedaag sal kan word.

Die mate waarin die kwessie van ras weer neig om sake te stagneer, blyk uit die kontroversie rondom die ABSA-kwessie. Op die gevaar af van oorvereenvoudiging, lyk dit asof ‘n groot deel van die wit gemeenskap sat is dat rassekwessies in haas elke sfeer van die lewe ingesleep word, gewoonlik tot die wittes se nadeel, terwyl baie swart mense, blykbaar van alle vlakke, ABSA se standpunt steun, maar die steun duidelik aan die hand van rassekwessies motiveer. ‘n Groot groep gekleurde meningsvormers – wat boonop wye mediablootstelling in die vorm van rubrieke geniet – soos Henrey Jeffreys, Ferial Haffajee en nou prof. Jonathan Jansen, tree volmondig vir ABSA in. Presies hoe dié rassepolarisasie veronderstel is om transformasie te dien is onduidelik. Veel eerder lyk dit of hulle die ANC te hulp snel om die swart stemme, dus die meerderheid, ter wille van swart vir die ANC te konsolideer en sodoende die vloeibare politiek wat vir gesonde demokrasie nodig is, vries.

настольные игры купить в киевеФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae