Die striemende aanval van dr. Pallo Jordan op Julius Malema het nog ‘n kwessie op die tafel geplaas, eerder as om dit iewers in die hoekie in vergetelheid te laat wegraak.
Malema, wat gewoonlik die publiek se bloed laat kook, het onlangs sy organisasie se standpunte oor seksuele verhoudings gestel, wat weer deel uitmaak van die veldtog teen Vigs. Die kern hiervan is dat verhoudings monogaam moet wees, en dat die twee partye getrou aan mekaar moet wees.
Jordan, soos baie ander, het dit as ‘n aanval op pres. Jacob Zuma vertolk. Dit is ook nie vreemd nie: Zuma het drie wettige vroue, ‘n verloofde by wie hy kinders het, en het boonop ‘n kind by ‘n huisvriend se dogter. Voorts is hy van die verkragting van ‘n MIV-positiewe vrou aangekla. Dat hy vrygespreek is, word oorskadu deur die feit dat hy volgens sy eie getuienis gaan stort het om die moontlikheid van MIV-besmetting te voorkom.
In moraliteitsterme is hy ‘n poligamis en ‘n owerspelige.
Dit is dus die staatshoof wat buite die riglyne optree van die internasionale veldtog teen Vigs. Om nou iemand te roskam oor hy dié riglyne, en sy organisasie se amptelike beleid stel – omdat dit ‘n aanval op die staatshoof sou neerkom – kompliseer die veldtog teen Vigs oneindig.
‘n Parallel kan ook getrek word na die stryd teen korrupsie. Solank as wat sommige kaders nie hul dag in die hof kry nie, is daar min inspirasie vir ander met hul lang vingers in die kasregister om op te hou daarmee. So lank gaan sommiges onder hul eie welvaart strompel, en hoe meer gaan die mense in die middelklas word wat moet begin kies of hulle hul kragrekenings gaan betaal, of kos op die tafel gaan hê. Hoe meer gaan bejaardes wat hul lewe lank verantwoordelik met hul geld omgegaan het, op hul oudag besef dit was nie genoeg nie.
Hoe meer munisipaliteite skep as wat gemeenskappe kan bekostig, hoe meer gaan die e-Colivlakke in waterstrome gemeet word, ‘n duidelike aanduiding van riool. Al ontken die departement die krisis ook in al elf amptelike tale.
Die Wêreldbank beskryf korrupsie immers as die diefstal van ‘n land se toekoms.
Die vraagtekens wat oor politici se moraliteit geplaas word is egter nie uniek aan Suid-Afrika nie. In Wes-Europa was ‘n veldtog vir die opskerp van moraliteit onder die politici en die media hoog op die agenda, en is 2008 selfs as die jaar van geestelike higiëne verklaar, toe die inhaligheidsvlakke van die korporatiewe wêreld die publiek wêreldwyd geskok het, en die wêreld in ‘n ekonomiese krisis gedompel het. Dié skok is vergroot deur instansies wat staatshulp as reddingsboeie gekry het, en dan sommer dadelik van daardie geld gebruik het om weer fabelagtige bonusse aan die topbestuur te betaal.
In Ysland, tradisioneel ‘n besonder persvrye land, het die bankbase wat die krisis daar veroorsaak het, argaïese regsreëls ingespan om hulself teen mediakritiek te verskans – met die gevolg dat daardie regsreëls gewys is en Ysland nou die toon met mediavryheid aangee. Politici het vernuftig die vraagtekens oor hul eie moraliteit afgeskud deur moraliteit sterk in hul ekonomiese herstelplanne in te skryf.
In Suid-Afrika is die program rondom mediavryheid stroomop, en duidelik teen die internasionale mening in, soos uit die vrae aan pres. Zuma tydens sy besoek aan die Euro-parlement geblyk het. Iets wat nou ook soos ‘n seer duim begin uitstaan, is die alles-omvattende rassebeleid met ‘n magdom rasgedrewe wette en maatreëls om glo rassisme teen te werk. Hierdie transformasieprogram begin nou dieselfde vlakke van belaglikheid bereik as die argumente wat nou ingespan word om Malema – die een keer wanneer hy die regte ding sê – die mond te snoer.
Die knak wat die vertroue in die wêreldekonomie gekry het, word hier ook aangewend om die sosialismeknoppie baie harder te druk. Die saad van hierdie veldtog val op vrugbare grond omdat Suid-Afrika die grootste meetbare inkomstegaping ter wêreld het, met boonop ‘n baie hoë werkloosheidsyfer. Die gewone kieser hier verstaan nie die omvang van die skade wat sosialisme aan ‘n ekonomie aanrig nie, anders as die Duitsers wat twee dekades lank miljarde Euro’s in die voormalige Oos-Duitse ekonomie moes pomp om ‘n mate van pariteit te bewerkstellig.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.