Feite wat aan die lig gekom het ná kmdt Willem Ratte en nege ander se inhegtenisneming naby Balmoral verlede Donderdag, toon dat die polisie-optrede niks anders is as ‘n heksejagoperasie nie.
Na die klopjag op die Balmoral koshuis het die polisie in die media na onwettige wapens en ammunisie verwys, en ‘n foto het in die media verskyn van nege vuurwapens en ‘n klomp messe daarby vir goeie effek.
Later is beweer dat daar slegs een onwettige item tussen die bondel was, ‘n R-4 aanvalsgeweer. Van die ander wapens was blykbaar geroeste voorlaaiers bestem vir die museum en al die ander wapens (behalwe die R-4) is blykbaar wettig gelisensieerd.
Nou word beweer dat die R-4 wapen glad nie eers op die koshuisperseel gevind was nie, maar op die hoewe langsaan, ‘n uiters verdagte wending indien hierdie gerug waar is.
Verder word beweer dat die polisie geen lasbrief gehad het om in die eerste plek by die koshuis op te tree nie ten spyte van die feit dat dit ‘n werksdag was en die polisie maklike toegang gehad het tot ‘n landdros. Die logiese gevolgtrekking is dat die polisie geen verklaring besit het wat as basis vir ‘n lasbrief gebruik kon word nie.
Daar was blykbaar ook geen lasbrief om op ‘n ander nabygeleë perseel stoorkamers oop te breek nie. By die Balmoral Volksmoord Museum is ‘n dame met ‘n pistool teen die kop gedwing deur Swart polisiemane, om haar woonstel te laat deursoek, al het hulle daarvoor ook geen lasbrief gehad nie.
‘n Getroue waghond by die koshuis is na bewering wreed geslaan tydens die klopjag en is na drie dae steeds in trauma.
HNP lede in die Oos Transvaal het bevestig dat die koshuis bewoon was deur jong mans wat meestal uit gebroke huisgesinne kom. Die jong manne (sommige net tieners) word gerehabiliteer in ambagte soos sweis, messelwerk en sekuriteit. Liggaamlike oefening en streng dissipline is deel van hulle opleiding. Later word hulle uitgeplaas na maatskappye wat werk aanbied en sodoende integreer meeste van die studente suksesvol met die breë samelewing.
Hierdie skynbaar wraaksugtige polisie-aanval is laakbaar en woede in Afrikanergeledere styg steeds. Die HNP moedig alle volksgenote aan om regerings in die buiteland en ander organisasies wat moontlik kan druk uitoefen, dringend in te lig oor die ware feite rondom al ons politieke gevangenes, en nou in besonder, kmdt. Willem Ratte en nege ander slagoffers van hierdie polisie heksejag.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.