Die rektor van die Vrystaatse Universiteit, prof. Jonathan Jansen, se opmerking in die Ahmed Kathrada-gedenklesing dat rassespanning in Suid-Afrika soos ‘n vulkaan is wat wag om uit te bars, kom waarskynlik vir min mense as ‘n verrassing. Slegs enkele maande gelede, tydens en kort na die Wêreldsokkerbekertoernooi, sou baie mense egter anders geoordeel het.
Dit is insiggewend dat Jansen na ‘n verslegting in die post-Mandela-era verwys. Hieroor sal meningsverskil wees, maar die implikasie is dat dit nie so seer ‘n beleid of grondwet is wat dinge beduiwel nie, maar die kwaliteit van die leiding hieroor, en in die besonder politieke leiding.
Die vlakke van rassespanning is geneig om te wissel. Nie lank voor die sokkertoernooi nie, het ‘n groep swart redakteurs en ander waaronder die negrofilis dr. Nico Smith, blankes gemaan om nie die ANC so erg aan te val nie omdat dit as anti-swart sentimente vertolk word, en tot ‘n bloedbad kan lei.
Apologete vir die grondwet kry in die vorm van rubriekskrywers in Afrikaanse koerante ruim geleentheid om die lofliedere van die huidige grondwet aan te hef. Die afgelope jaar klink hierdie lofliedere weliswaar gereeld wanklankig, omdat dié rubriekskrywers dikwels ‘n groot deel van hul pennevrug aanwend om te kla oor alles wat verkeerd is, en dan op te som dat die oplossing steeds in die grondwet gesoek moet word.
Jansen, wat nog onlangs deur die Nederlandse koerant Trouw as Mandela se opvolger as Suid-Afrika se versoeningsikon genoem is, het weliswaar in sy lesing verskeie omstrede stellings gemaak, heelwat wat ook tot die polarisasie kan bydra, maar verval nie in die snuifgetrapte retoriek dat die grondwet alles is nie. Terwyl hy kennis neem van die skade wat boodskappe soos slegs swart mense wat aansoek vir poste kan doen en grondgryppraatjies kan aanrig, meen hy die boodskap behoort te wees dat die stryd handel oor die ontwikkeling van Suid-Afrikaners in die algemeen.
Dit sluit aan by ‘n baie ou stelling van die destydse president van die RGN, dr. Tjaart vd Walt, dat geen grondwet, selfs nie beste in die wêreld nie, kan werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.
Uitsprake en liedjies soos dié van Julius Malema, talle sprekers by grondhervormingskonferensies wat ondeurdag die wens uitspreek dat Robert Mugabe gekry moet word om Suid-Afrika se grondhervorming te dryf, die regering se halsstarrige swye met bykans alle plaasmoorde – dit alles dra daartoe by dat die spanningsvlak vergroot. Voeg hierby die kwessies van ABSA se transformasiedruk op SARU en die verskuiwing van die springboklogo na die mou vir aanstaande jaar se wêreldbekertoernooi, en die oorsake hoef nie ver gesoek te word nie. Dit word verder beklemtoon deur die reaksie van invloedryke mense wat in effek rassistiese optredes soos rasgedrewe regstellende aksie en transformasie goedpraat as teenwig vir apartheid, waarvan die laaste wet reeds in die tagtigerjare in die stof gebyt het. Hoe kernagtig ras ingebed is by van die transformasiedrywers word goed onderstreep uit politici se bohaai toe die bruin krieketspeler, Charl Langeveld, by geleentheid sy insluiting by die Proteas van die hand gewys toe hy agterkom hy is weens velkleur bo ‘n wit snelbouler verkies. Langeveld se houding staan in skrille kontras met die standpunt wat die redakteur van City Press Ferial Haffajee in gister se Rapport waar sy steeds rassemaatreëls as teenvoeter vir apartheid opper. Sy erken darem ook ruiterlik dat sy haar eie opgang aan regstellende aksie kan toeskryf.
