Korrupte staatsamptenare dalk gebrandmerk

Die neem van omkoopgeld kan Russiese amptenare dalk binnekort gebrandmerk laat, letterlik. ‘n Voorstel om die linkerhande van skelm staatsamptenare te brandmerk is op die tafel om oorlog teen korrupsie te verklaar, het RIA Novosti Dinsdag berig.

Aanvoerders van die Liberaal-Demokratiese Party wil die letter K – ‘n simbool vir ‘n omkoopbare werknemer – permanent geëts op oortreders se vel sien.

Sergei Ivanov en Igor Lebedev het die ernstige maatreël voorgestel in ‘n nuwe wet-en-orde-wetsontwerp wat voor Rusland se parlement, die Doema, dien.

Hulle sê die merke sal skande vir korrupte amptenare bring en Russiese werkgewers waarsku sodat hulle kan weier om werk aan sulke amptenare te verskaf.

“Die skrywers van die wetsontwerp is van mening dat dié stap skuldiges met ‘n sigbare skandvlek sal laat om aan te dui dat hulle ‘n misdaad gepleeg het wat hulle toekomstige werkgewers in staat sal stel om indiensneming te weier,” het die sentrum party, wat tans 40 van die 450 setels in die Doema het, in ‘n verklaring gesê.

Ná hy in 2008 as leier verkies is, het Dmitri Medwedef korrupsie as die nommer een bedreiging vir die Russiese samelewing uitgewys en ‘n reeks wette ingestel om die bedreiging te bekamp.

Nie die regering of die Hooggeregshof sal waarskynlik die brandmerk-inisiatief ondersteun nie, het die staatsbeheerde nuusagentskap gesê.

Die Duitse korrupsiewaghond, Transparency International, lys Rusland as een van die mees korrupte lande in die wêreld.

трансформер праймФільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae