Ons moes kyk na die swart kulture se feesvieringe en luister na hulle opinies. Dit sou alles goed en wel gewees het om te aanskou ter wille van ‘n kans om ook na die Afrikaner se erfenisvieringe te kyk, maar dit is ons nie gegun nie. Anders as in die meestal Afrikaanse sepie met Engelse onderskrifte net voor die nuus, is daar nie van Afrikaanse onderskrifte gebruik gemaak nie en ons is nou al gewoond aan die oorwegend Engelstalige advertensies in die advertensiegleuwe. Ons kon ook nie eens sien hoe die Afrikaners ‘n vleisie braai vir Braaidag nie. Net die ander kulture en alles in Engels.
Pallo Jordan het ‘n paar keer sy mening gegee. Hy praat van apartheid en die struggle en later sê hy: “…so that we can gird up your loins for the battles that lie ahead.” Nou wonder ek maar net na watter gevegte hy verwys.
Van die optog na die SABC se kantore in Auklandpark is daar ook niks gewys nie. Tydens die optog is ‘n beswaarskrif met 95 000 hantekeninge teen die gebruik van die woord Tshwane vir Pretoria oorhandig aan ‘n SABC-woordvoerder.
Die meeste mense sal nou sê dat hulle nie daarvan geweet het nie, en dit is te verstane want die kommunikasiekanale na die Afrikaners is in ‘n groot mate afgesny. Die SABC is nou die spreekbuis van die ANC.
Die soort minagting is dieselfde as soveel regeringsdepartemente wat nie eers die moeite doen om op skrywes aan hulle te reageer nie. Ons weet egter dit is net nog ‘n vorm van magsvertoon, maar mens noem dit sommer net swak maniere.
Hoe lank sal dit neem totdat alle Afrikaners maar net die status-quo gaan aanvaar. Die totale magsvertoon van die SABC. “'n Mens kan nie teen so ‘n oormag weerstand bied nie,“ dink jy. Maar die geskiedenis vertel ‘n ander storie. Die Afrikaner het juis ‘n erfenis waar hy teen oormagte te staan gekom het en nooit ten volle verslaan was nie. Dit is die erfenis wat hulle nie wil hê jou kinders moet onthou nie. Hulle is nou deel van ‘n nuwe nasie – die reënboognasie.
Maar baie Afrikaners kom met ‘n skok agter dat dié reënboog net een kleur het, en dit is swart, dit is nou na aanleiding van die Afrikaanse nuus van die SABC van Maandagaand.
Ek wonder nou net hoe die Afrikaanse kultuurorganisasies daarop gaan reageer. Of het hulle al klaar geleer hoe om President Mbeki se stille diplomasie toe te pas. As hulle egter stilbly daaroor, keur hulle dit mos immers goed of hoe?
Dit sal ook interessant wees om the sien wat die verhouding van betalende televisielisensiehouers tot die totale kyker per kultuurgroep is.
Is dit nie nou tyd vir ‘n Afrikaanse TV-kanaal wat alle aspekte van die Afrikaanse kultuur dek nie? As dit dan teen die wet is moet so ‘n wet maar gewysig word. Of sal ons daarvan weerhou word soos die arme mense in Zimbabwe wat minder weet wat in hul eie land aangaan as wat die res van die wereld weet?
Miskien het die oorgrote meerderheid Afrikaners besluit dit is beter om die Afrikanerkultuur prys te gee ter wille van oorlewing. In daardie geval is dit miskien beter om Charles Nqakula se advies te vat en te immigreer na ‘n land waar daar immers nie teen jou velkleur gediskrimineer word nie.
