Opvoedkundige instellings of oorlogsone?

Belastingbetalers, ouers en beursinstansies dok baie op om studente by instansies van hoër onderwys vir die toekoms voor te berei. Tog is universiteite dikwels ook die broeiplek van allerlei vorme van gesagsuitdaging.

Baie lande, soos Spanje en Frankryk, het al met studente-onluste te kampe gehad. Suid-Afrika het ook reeds sy kwota gehad, en al te dikwels is dit ook wanneer die eksamenspook begin loop dat ook ander sake te kort en te lank raak, en die fokus weg van die akademie verskuif. Daar is al selfs na sogenaamde onlusteseisoene verwys.

Onder die mees drastiese uitrafelvorme was die Tupomaros wat revolusie in Uruguay gestook het, en veral kampusse as hul basisse ingerig het. Die Tupomaros was so sterk dat hulle as ‘n volwaardige lid van die destydse internasionale terrorismebeweging met karakters soos Carlos die Jakals en instansies soos die Japannese Rooi Leër en die Swart September gereken is.

Sosioloë verskaf talle redes, soos dat die jong mense vir die eerste keer buite die direkte omgewing van ouerlike gesag beweeg, en hul grense toets, en boonop aan nuwe denkrigtings blootgestel word, terwyl groepsdruk ook ‘n rol speel.

Die apartheidsbeleid van die vorige bedeling was destyds vir baie ‘n handige kapstok om legitimiteit vir wanorde te vind.

Tog dui die verwikkelinge by Kovsies daarop dat die probleem nie deur die verwydering van ‘n bestel, en selfs die gedwonge verplasing daarvan met iets anders, opgedroog het nie. Pas het Sasco op die bedanking van die rektor, prof. Jonathan Jansen, aangedring. Jansen word in geen onduidelike taal nie as ‘n pion van die ou bestel uitgeskel.

Dat Jansen die studente wat geskors is, kort voor hulle die intervarsity teen die Pukke begin ontwrig het self gewaarsku het, maak geen indruk op Sasco nie.

Tog sou dit ook belangrik wees dat Sasco begin kennis neem van hoe die saakmakende wêreld die situasie beoordeel. Enkele maande gelede het die Nederlandse koerant, Trouw, Jansen nog as die nuwe ikon van versoening in Suid-Afrika voorgehou. Sy hantering van die Reitz-4, ‘n situasie wat hy goed opgemors geërf het, het ‘n belangrike onderdeel uitgemaak.

Dat Jansen ‘n baie, baie moeilike taak het, is nie te betwis nie, en dat hy ook nie al die antwoorde op sy rekenaar kan opslaan nie, is ook so. Hy, soos enige ander mens, leer deur ondervinding.

Die kampussituasie staan ook nie in isolasie nie. Op die oorhoofse vlak is daar planne om die media – en dus die bevolking – se uitdrukkingsvryheid en reg om ingelig te wees in te kort. Dit is ‘n aanslag teen demokrasie. Die ANC se jeugleier, Julius Malema, het dit toegeskryf daaraan dat die media nie die saak van die volgehoue rewolusie steun nie. Ander ANC-woordvoerders speel openlik die rassekaart.

Dit is wanneer transformasiedoelwitte en ‘n voortgesette rewolusie gekruisde lyne begin opdoen, dat die situasie bykans onhoudbaar word. Dan is eise bloot rookskerms, en beteken toegewings gewoon dat die doelpale geskuif word. Dan is die einddoel in wese dat die universiteit ‘n fabriek moet word om produkte te lewer wat ooreenkomstig ‘n spesifieke politieke model toegerus is.

Dit druis in teen die mees basiese filosofie van hoër onderrig, waar opgeleide, denkende mense afgerond is, nie politieke rubberstempels nie.

Die opskorting van politieke bedrywighede onder studente is reeds ‘n duur prys, omdat politieke mondigheid ‘n onderbou van demokrasie is. Dit is duidelik dat van die oorkookgeweld op marionetoptrede dui, en daarom kortgevat moet word. Of dit reg was om ook die onskuldige politieke affiliasies onder dieselfde kam te skeer is ‘n ander vraag. So ook of die marionettemeesters sal toelaat dat Jansen hul toutjies knip, is nog ‘n vraag.

справка от физкультурыДанильченко Юрий Брониславович

Maak 'n opvolg-bydrae