Taliban en die moord op Christen-hulpwerkers

Terwyl die wêreld nog geskok is oor die moord van tien mediese hulpwerkers in Afganistan word die ontleedmesse uitgehaal. En geen scenario lyk goed nie.

Die tien buitelandse hulpwerkers was lid van die organisasie IAM, maar hierdie Christen-hulporganisasie is nie die enigste Christen-organisasie wat in die land betrokke is nie.

Tradisioneel, selfs toe die Taliban aan bewind was, het ‘n Christen minder teenkanting ontlok as ‘n agnostikus of ateïs, wat aan Kommunisme en die Russiese besetting van die land gelykgestel is.

“Maar nou verander dit” aldus Laurent Saillard van die liggaam wat hulporganisasies in Afganistan koördineer.Hy deel ‘n mening wat veld wen dat diegene wat ‘n wig tussen die Afgane van die internasionale gemeenskap wil indryf, Christene as ‘n belangrike hefboom gebruik.

Verskeie Islamitiese lande is uiters onverdraagsaam teenoor mense wat Moslems tot ‘n ander geloof probeer bekeer, en baie swaar vonnisse word oplê. Voornemende sendingwerkers is besonder bewus van lande waar dit nie toegelaat word nie, en spits hulle eerder op ander toe, of probeer bloot deur ‘n voorbeeld en met humanitêre hulpverlening siele vir Christus wen.

Marokko was vanjaar twee keer in die spervuur – eers deur Nederland en toe Spanje, oor Christene wat weens beweerde sendingwerk uit die land geskop is.

Pas het die radikale Al-Shabab in Somalië drie Christen-hulpgroepe gewaarsku om die land te verlaat omdat hul lede glo sendingwerk doen, en ander organisasies gewaarsku om nie hul plek in te neem nie.

Of die tien Christene wat in Afganistan werklik sendingwerk probeer doen het, is nie bekend nie. Die Taliban se optrede kon nie op ‘n slegter tyd gekom het vir Moslems wat ‘n moskee digby die terrein van Ground Zero in New York wil oprig nie. Die Nederlandse politikus, wat onlangs van haatspraak teenoor die Islam aangekla is, Geert Wilders, is op 11 September ‘n gasspreker by die protesgeleentheid teen die moskee.

Pas is berig dat ‘n swanger Afgaanse vrou deur die Taliban 200 houe toegedien en tereggestel is omdat sy glo ‘n buite-egtelike verhouding gehad het.

Dit is dus nie net Christene wat geteiken word nie, maar Wilders is bykans oornag van oorgenoeg skietgoed voorsien.

Intussen het die Indonesiese polisie een van dié Islamitiese land se radikale Moslemleiers, Abu Bakar Bashir gearresteer. Hy was voorheen 26 maande agter tralies in verband met die Bali-bomaanslag, en word nou verdink van medepligtigheid met ‘n beplande sluipmoordpoging op die Indonesiese president deur die radikale groep, Jemaah Islamiyah. Volgens die VSA het hierdie groep bande met Al Kaïda.

Vir Navo om bloot die wortels uit Afganistan op te trek en die inwoners aan hul eie lot oor te laat is nie ‘n opsie nie. Dit is taamlik seker dat die Taliban weer die bewind sal oorneem, en dat Afgane wat met die bevrydingsmagte / besettingsmagte geassosieer is, die spit gaan afbyt.

Ground Zero bly ook ‘n ongenaakbare getuienis dat dit nie net die Afgane gaan wees wat les opsê nie. Niemand in die wêreld gaan veilig wees nie. Daarvoor het terreurgroepe te veel onderlinge bande, en het die radikale Islam as grondslag.

online slots uktopcargo отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae