praag.co.za

Mediavryheid: Twee kante van die munt

Written by

in

“ ‘n Mens kan nie wen teen hulle wat hul ink by die konka aanskaf nie.”

Dit is ‘n afgetrede regter se woorde wat sy ongelukkigheid met ‘n plaaslike koerant “besleg” het deur maar die strydbyl te begraaf. Sy stille protes is om nie meer die koerant te koop nie.

Die pen is magtiger as die swaard, veral as die pennevrug van die rolpers af gerol kom.

Dit net ter inleiding om te toon dat daar ook ‘n bona fide-element in die versugting kan wees om die media as verantwoordelike media te laat optree.

Die saak vir mediavryheid is egter oorweldigend groot. Die Belgiese politikus Yves Leterne, het terwyl hy premier was opgemerk dat die media die vierde been van die demokrasie uitmaak, weliswaar ‘n nie-statutêre been.

Die rol van ‘n vrye media is nie net om as waghond teen korrupsie en magsmisbruik op te tree nie, maar om die bevolking genoegsaam ingelig te hou om ingeligte keuses by die stembus te kan maak.

Instansies soos Verslaggewers sonder Grense se jaarlikse persvryheidsindeks is uiters belangrik, en het ook ‘n invloed op ander indekse soos die korrupsiepersepsieindeks en die beleggersvertroueindeks.

Terwyl die media in Suid-Afrika nuwe wetgewing en ‘n moontlike mediatrunaal in die gesig staar, en ‘n joernalis gearresteer is, is Ysland se onlangse nuwe mediawetgewing as gids vir mediavryheid voorgehou. Ysland, wat reeds op die voorpunt van die persvryheidsindeks was, het nuwe wetgewing gekry nadat die banksektor bestaande wetgewing wou inspan om berigte oor dié land se banksektor se ineenstorting te keer. Aan die ander kant van die munt het Italië se joernaliste, wat hul premier se sekskapeds aan die groot klok gehang het, ‘n dag lank gestaak om teen nuwe beperkende maatreëls protes aan te teken. Italië, soos Suid-Afrika, word nou op Freedom House se lys as lande aangedui waar die media net gedeeltelik vry is.

Hoe gebeur dit dat ‘n land waarvan die grondwet nie net die reg op uitdrukking waarborg nie, maar een van die min grondwette is wat pers- en ander mediavryheid pertinent daarby voeg (art. (16) (1) (a)), op ‘n indeks as “gedeeltelik vry” beskou word?

Soos alle ander menseregte wat in die grondwet vervat is, kan ook hierdie reg deur onder meer maatreëls en ander wette beperk word, maar hierdie beperkings mag nooit so wees dat dit die oorspronklike reg effektief vernietig nie. By die uitleg van wette bepaal die grondwet self ook (art 233) dat voorkeur gegee moet word aan enige redelike uitleg wat in ooreenstemming met internasionale reg is.

Wanneer state die mediavryheid begin beperk, word gewoonlik in terme van ‘n veiligheidsbedreiging geargumenteer. Vroeër vanjaar het die Nederlandse veiligheidsdiens vir ‘n ligte Watergate gesorg deur ‘n koerant en spesifiek ‘n joernalis se kommunikasie af te luister. Die staat het aangevoer dat dit nodig was weens die veiligheidsrisiko wat dié joernalis se beriggewing veroorsaak het terwyl die Dalai Lama op besoek aan die land was. Die staat het verloor.

Dit is tog nodig om ‘n oomblik stil te staan by hoe ‘n terreurbedreiging en die media ‘n wisselwerking op mekaar kan hê.

Terreur word dikwels as propaganda van die daad beskryf. Dit is ‘n vorm van kommunikasie, en wil ‘n boodskap by die teiken uitkry. Die wêreld is die gehoor, en die terroris wil hê baie mense moet kyk en hoor, nie noodwendig baie mense dood hê nie. Van die skrywers wys daarop dat dit dikwels baie makliker sou wees om ‘n stad se waterwerke te vergiftig as om ‘n bom in ‘n straat te laat ontplof. Die bom bied egter ‘n veel beter “teater” wat hom in die sitkamers van mense dwars oor die wêreld afspeel.

Lande gebruik dikwels terreurgroepe om oorlog deur afstandbeheer teen ander lande te voer. Beide die VSA en Israel vaar op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidindeks veel beter binnelands, as in gebiede met veiligheidsprobleme wat beset word. Die VSA behaal binnelands die 20ste posisie maar in die buiteland (bv Irak) neem dit die 108ste posisie in. Israel behaal binnelands die 93ste plek, en in besette gebiede die 150ste. Die Palestyne owerheid vaar nog swakker, met die 161ste plek. Suid-Afrika, eens die mees persvrye land in Afrika, lê nou in die 33ste posisie na onder meer Ghana en Mali. In 2006, toe daar sprake van soortgelyke wetgewing was, het Suid-Afrika tot die 44ste plek teruggesak. In 2003 was Suid-Afrika nog in die 21ste posisie en die mees persvrye land in Afrika waaroor die regering se kommunikasieliggaam groot gewag gemaak het.

Die veiligheidskonteks was ook in die vroeë tagtigs die grondslag van die destydse Erasmuskommissie van ondersoek na mediavryheid. Toe ook het die media gemeen bestaande wetgewing het reeds meer as voldoende beskerming gebied. ‘n Senior joernalis het op die integriteit van die media gewys, deur te meld dat elke beduidende koerant in sy lêers genoeg inligting het om ‘n regering te sink, maar dit weens integriteit nie gebruik nie. Later twee rektore in dieselfde stad gelyktydig skelmpies gehad wat buitengewoon bevorder is, maar dit het nie die media gehaal nie.

Speel veiligheidsoorwegings nou ‘n bepalende rol in planne om die media in die bek te ruk?

Jeremy Cronin, prominente SAKP-lid en adjunk-minister van Vervoer, meen byvoorbeeld ‘n regstelling agterna, ontdaan nie die skade wat in die eerste plek deur foutiewe beriggewing aan ‘n persoon aangerig is nie.

Die ANC-jeugliga se leier, Julius Malema, het onder meer die voorgestelde beperkings as nodig beskryf omdat die media nie die rewolusie genoegsaam ondersteun nie.

Kortom, uit die ANC-geledere kom nie ‘n goed genoeg gesinchroniseerde boodskap om die argwaan teen die media mooi in ‘n neutedop te kan saamvat nie. Die implikasies van die voorgestelde wetgewing is egter duideliker: Dit gaan dit vir die regering makliker maak om korrupsie toe te smeer. Dit word byvoorbeeld as onwaarskynlik beskou dat oud-polissiekommissaris Jackie Selebi ooit suksesvol vervolg sou kon word as die voorgestelde wetgewing reeds in plek was. Dit kan ondersoekende joernalistiek onmoontlik maak.

Van die voetsoolvlak in die ANC-dampkring word onder meer die volgende gereeld gehoor:

–          Die media berig net oor die slegte, en “nooit” oor prestasies van ANC-beheerde rade of die regering nie.

–          Die media is nie voldoende getransformeer nie, en misdaad teen blankes kry nie soveel dekking soos wanneer swart mense die slagoffers is nie.

–          Die huidige persombudsman beteken dat die pers oor homself polisieman speel en as regter optree. Dit moet deur ‘n “onafhanklike” liggaam gedoen word.

–          Daar is slegs twee groot pershuise, en beide steun nie die ANC / regering nie.

Wat die laaste bewering betref, moet in gedagte gehou word dat geen politieke party ooit genoeg en nog minder te veel mediadekking kan kry. Oud-Minister Blaar Coetzee het by geleentheid gesê vir ‘n politieke party is daar nie so iets soos slegte publisiteit nie, net publisiteit. Sy party het egter later, te midde van die Inligtingsdebakel, die Citzen met staatsfondse opgerig omdat die destydse Engelse pers min of meer die geledere teen die regering gesluit het. Bykans elke politieke party in die land doen groot moeite om ‘n behoorlike media-arm te hê, en hul mediaverklarings so verbruikersvriendelik as moontlik by die media te kry.

Van die media se kant word nuuswaardigheid egter nie net deur die inhoud bepaal nie, maar die grootte van die party wat dit uitreik, en hoeveel steun so ‘n party min of meer by die lesers het. Koerante het egter ook hul eie verklaarde waardestelsels, en hoe meer ‘n party se beleid daarmee ooreenstem, hoe gunstiger nuusdekking kan dit verwag.

Weens die tegnologie en finansiële faktore, en die opkoms van gemeenskapsmedia, is al hoe meer mense vir hul nuus afhanklik van media wat nie ‘n span joernaliste het nie. Dit wat persklaar na die media kom, kry gewoon voorkeur bo dit waar die media moet kostes aangaan om na nuuskonferensies te ry, en in die proses dikwels ‘n nuuskantoor onbeman laat. Sommige partye “vrek” egter oor mediakonferensies, en kla dat sommige media doodeenvoudig nie daarby kan uitkom nie, al wil hulle hoe graag. (En dan begin dit gereeld laat wat beteken dat joernaliste wat hul tyd fyn moet sny dikwels moet vertrek voor die nuuskonferensie begin het).

Cronin verwys na wat hy as die sukses van die Openbare Beskermer in “onafhanklike” beregtiging noem. Sy keuse van om hierdie liggaam as voorbeeld te gebruik, veral onder die leiding van die vorige hoof, Lauwrence Mushwana, was waarskynlik ‘n ongelukkige keuse. (Waar Cronin kla dat ‘n regstelling agterna – veral as dit minder prominent geplaas is as die oorspronklike berig – nie die skade aan ‘n persoon regstel nie, sit die Openbare Beskermer al meer as tien jaar op ‘n verslag wat iemand wat na 1994 onregmatig benadeel is, skoon verklaar, maar dit gewoon nie uitreik nie, ten spyte daarvan dat die OB by pres. Zuma se tolvrye nommer verkla is, en ook by die VN se Menseregteraad).

Is daar ‘n geldigheid oor die ANC se besware teen die bestaande persombudsman?

Tydens een van die Reitz-4 se hofverskynings het die landdros die media en politici gewaarsku om nie die hof se bevindinge vooruit te loop nie. In die volgende uitgawe van Rapport verskyn egter ‘n brief waarin onder meer na die Reitz-4 as misdadigers verwys word. ‘n Klag by die Persombudsman lewer niks op nie.

In die RSG-besprekingsprogram, Kommentaar, is op die probleem van onervarendheid van joernaliste gewys, en wat tot baie blapse onder meer op die regstegniese terrein lei. (dan wil ‘n mens nie eens na die invloed van Engels op Afrikaanse beriggewing wys nie waar wetsatikels gereeld “seksies” word, en “setels” gereeld “sitplekke.”

In die “goeie ou dae” was dit ‘n redelik algemene praktyk om beginner-joernaliste ‘n ruk lank as hofverslaggewwers te laat werk om hulle vertroud te maak met absoluut akkurate verslaggewing. Na dit onder die knie gekry is, kan na ander meer gesogte “beats” soos landbou en die politiek beweeg word. Wêreldwyd is daar egter ‘n neiging tot verjonging in die redaksiekantore met die gevolglike verlies aan kundigheid.

Tegnologie speel ook ‘n belangrike rol. Waar verslaggewers in die “ou dae” mediaverklarings wat per teleks of per faks ingekom het, nog moes oortik, leen goed-saamgestelde mediaverklarings wat per e-pos ontvang is hulle daartoe dat elektronies “geknip” en “geplak” kan word. Sonder ‘n redelike kennis oor die onderwerp waaroor die verklaring handel, kan foute deurglip. Is dit oorgetik, is twyfelagtighede uitgelaat of opgevolg.

Opsommend: Die media kan plek-plek meer doen om te verhinder dat soveel foute gemaak word. Of ‘n voorhamer nodig is om dit te vermag is egter ‘n ander vraag. ‘n Mank demokrasie is ‘n duur prys om vir ‘n pynlik korrekte media te betaal wat nie kan waag om iets te bevraagteken nie.

casino gamingtopcargo отзыв

Comments

Leave a Reply