Die joernalis van die Sunday Times, Mzilikazi wa Afrika, sal vrygelaat word voor sy aansoek om borgtog Vrydagoggend in die Nelspruit-streekhof.
Regter Johan Kruger het Donderdagaand kort voor 22:00 gesê dit sou onwettig wees om Wa Afrika ‘n minuut langer aan te hou.
“Die vryheid van die individu word deur die grondwet beskerm,” het Kruger gesê.
“In die grondwetlike staat is die Grondwet die hoogste gesag. In my siening sal geregtigheid geskied as hy vrygelaat word. Dit is onwaarskynlik dat ‘n paar ure van vryheid skade aan die staat se saak sal aanrig.”
Die Sunday Times het vroeër ‘n dringende interdik ingedien om die joernalis se vrylating te versoek, nadat hy Woensdag deur lede van die Valke buite die koerant se kantore in hegtenis geneem is.
Wa Afrika se prokureur Arnold Meyer, SC, het aan die hof gesê dat daar geen rede is hoekom hy tans aangehou moet word nie, selfs al is hy slegs ‘n paar ure lank vry.
