Terwyl ingenieurs besig was om die laaste tegniese probleme voor die operasie op te los, het hersiene syfers van die Amerikaanse regering getoon dat sowat 5 miljoen vate olie uitgesek het voordat die olieput in die middel van Julie voorlopig verseël is.
Dit maak dié oliestorting die wêreld se grootste ooit en verdwerg die Ixtoc-oliestorting in die Baai van Campeche in Mexiko in 1979. Die Ixtoc-olieput het 3 miljoen vate se olie verspil.
Die nuwe raming is nóg slegte nuus vir BP, wat ook deur ‘n ondersoek deur Amerikaanse reguleerders in die gesig gestaar word oor werknemers wat onwettig winste gemaak het uit die oliestorting.
BP kan met $4 300 per vat beboet word as growwe nalatigheid bewys kan word. “Gegewe die nuwe syfers kan BP met $4,5 miljard beboet word as growwe nalatigheid nie bewys kan word nie, of tot $14 miljard as dit wel bewys kan word,” het ‘n ingeligte gesê.
Die toets is vir ‘n dag uitgestel weens ‘n hidrouliese lekkasie. Die operasie sal opgevolg word deur die voltooiing van ‘n noodput later vandeesmaand, waarna ‘n “bottom kill”-operasie die olieput met modder en sement sal vul.
