Hy het op die staatsbegrafnis van sy suster, Sabina Mugabe, 80, in die helde-akker net buite die hoofstad gepraat.
“Ons sê na die hel, hel, hel met hulle. Hulle (Europa en die VSA) sal nie vir ons besluit wie Zimbabwe lei nie,” het hy gesê.
Charles Ray, die VSA se ambassadeur in Harare, het tydens die toespraak verkas en wou nie later oor die uitbarsting kommentaar lewer nie.
Volgens Mugabe het die dood hom van een van sy grootste vertrouelinge en vriende in sy stryd teen kolonialisme en Westelike oorheersing in Afrika beroof.
Sabina wat tot 2008 ‘n parlementslid was, is Donderdag na ‘n lang siekbed oorlede.
Sy is in ‘n tombe begrawe wat in die vorm van ‘n AK47-aanvalsgeweer uitgelê is. Vryheidstryders soos Joshua Nkomo en Mugabe se eerste vrou, Sally Hayfron, is in dieselfde tombe begrawe.
Elke graf verteenwoordig ‘n koeël in die denkbeeldige AK47 se magasyn.
Volgens Mugabe is dit die Weste wat sy land deur middel van sanksies op sy knieë gebring het.
Hy het weer op die kwessies van sanksies gehamer soos hy die afgelope jaar tydens bemiddeling deur Suid-Afrika tussen hom en Morgan Tsvangirai, Zimbabwe se premier, gemaak het.
Sy suster was een van ‘n groep van sowat 200 Zimbabwiese politici en sakelui wat agv sanksies nie na Europa en die VSA kon reis nie.
“Europa en Amerika wil die afstootlike sanksies behou. Hulle sê Mugabe moet nou gaan en dan kan hulle iemand kies wat die land lei,” het Mugabe gesê.
